Die plaaslike beskikbaarheid van hierdie tegnologie word moontlik gemaak deur die suksesvolle toepassing van die teling- en tegnologieheffings wat as aansporing dien vir saadmaatskappye om in nuwe tegnologie in Suid-Afrika te belê. Lede van Graan SA se sonneblom-en-sojaboonwerkgroep het onlangs die geslote proewe van Bayer besoek waar die Intacta en RR2-tegnologie vir die bekamping van bolwurm, asook verdraagsaamheid teen glifosaat as onkruiddoder as deel van die registrasieproses getoets word. 

As deel van die proses word kultivars getoets met die oog daarop om dit kommersieel beskikbaar te stel. 

Altesaam 18 kultivars wat die nuwe tegnologie bevat, word plaaslik getoets. In lande soos Brasilië bevat 80% van sojaboonkultivars wat aangeplant word, reeds hierdie tegnologie wat nou danksy die Suid-Afrikaanse kultivar- en tegnologie-agentskap (Sacta) se heffing ook plaaslik moontlik gemaak word.

Die Intacta RR2 Pro-sojabone hou drie voordele vir produsente in: verhoogde opbrengs; beskerming teen plae soos Afrika-bolwurm (die belangrikste insekplaag by plaaslike sojabone); en verdraagsaamheid teen glifosaat om onkruidbekamping te vergemaklik.

Mnr. Corné Louw, senior ekonoom van Graan SA, het vroeër na ’n studie verwys wat in vier lande in Suid-Amerika oor ’n tydperk van vyf jaar gedoen is. Dit het getoon dat vir elke dollar wat produsente aan Intacta RR2 PRO-tegnologie bestee het, hulle vergelek met konvensionele saad $3,88 in ekstra inkomste teruggekry het. 

Hierdie inkomste is verkry uit ’n toename in opbrengs (9,2%) en laer koste aan onkruid- en insekdoder (115,1%). Uit vroeëre toetsresultate het Bayer daarop gewys dat daar sedert 2013 vir ’n tydperk van vyf jaar sowat 73,6 miljoen ha van dié sojabone in Argentinië, Brasilië, Paraguay en Uruguay aangeplant is.

Deur die meer doeltreffende gebruik van onkruid- en insekdoders kon boere na meer volhoubare praktyke soos verminderde of geenbewerking oorskakel. Dit het gelei tot ’n vermindering van 6,8 miljard kg se koolstofvrylatings, wat gelykstaande is daaraan om 3,3 miljoen gesinsmotors van die paaie af te haal, aldus die studie. 

Die impak op die omgewing is met 30,6% verminder danksy die feit dat 10,4 miljoen kg minder insek- en onkruiddoder gebruik is en meer as 200 miljoen liter water bespaar is.

Dr. Laura Grapes, leier van Bayer se produksiestelsels in die Noord-Amerika-teelprogram, het aan Graan SA se tydskrif gesê hierdie gevorderde tegnologie help die maatskappy om sojaboonkultivars wat beter presteer, vir produsente te ontwikkel en te kommersialiseer. 

“Gewoonlik is opbrengs die belangrikste aandrywer­ van mededingendheid, maar ander faktore soos saadaanbevelings (die regte saad vir ’n spesifieke produsent se omstandighede) tesame met die mees geskikte insekbestrydingseienskappe, word toenemend belangrik vir enige boerdery. Die doel is om ’n omvattende oplossing te bied wat saad, biotegnologie, gewasbeskermingsprodukte en digitale oplossings kombineer om die boerdery te verbeter.”