Die departement sê in ’n kort verklaring hy “neem kennis” van Mkhwebane se verslag oor ’n ondersoek na beweerde wanadministrasie deur die provinsiale en nasionale departemente in die hantering van ’n uitbreking van brucellose op die melkplaas Goedemoed naby Ventersburg.

“Hoewel die departement die grondwetlike rol van die kantoor van die openbare beskermer respekteer, is hy verontrus oor sekere bevindinge en aanbevelings wat gemaak is. Die departement het dus regsadvies ingewin oor die inhoud van die verslag. 

“Op grond van die advies wat ontvang is, het die departement ’n regspan opdrag gegee om ’n hersieningsaansoek te bring oor die bevindinge en aanbevelings van die openbare beskermer. In die lig hiervan is die departement nie in ’n posisie om in hierdie stadium verder kommentaar te lewer nie.”

Beheermaatreëls

Landbouweekblad het in April oor die bevindinge in die hoogs kritiese verslag berig (sien bit.ly/2JMNxyn). Mkhwebane het bevind die Vrystaatse departement van landbou en landelike ontwikkeling was skuldig aan wanadministrasie vir sy hantering van die uitbreking van brucellose op Goedemoed.

Sy het bevind die Vrystaatse departement het nie die beheermaatreëls vir die verspreiding van die siekte ingestel soos die wet vereis wanneer ’n uitbreking aangemeld word nie.

Luidens die verslag is die uitbreking glo in 2010 by die ontslape staatsveearts dr. Louis van Rooyen aangemeld. Hy het dit na bewering daarna nie by die direkteur van dieregesondheid aangemeld nie, glo nie die plaas onder kwarantyn geplaas nie en ook blykbaar nie die permitte uitgereik sodat die diere na die abattoir geneem kon word nie.

Die verslag het ook bevind dat dr. Petra Kitshoff, die nuwe staatsveearts sedert Junie 2011, ook glo nie voldoende beheermaatreëls ingestel het nie, en dieselfde oortredings as Van Rooyen begaan het. 

Landbouweekblad het in April die departement en die nasionale dieregesondheidsforum om kommentaar genader oor die aangeleentheid, maar het geen reaksie ontvang nie.

Nadat die berig verskyn het, het die klaer in die aangeleentheid, mev. Ronél Behrens, haar steun vir Kitshoff uitgespreek.

Onder skoot

Sedert Absa en die Reserwebank verlede jaar Mkhwebane se omstrede bevinding in 2017 dat die Reserwebank se mandaat moet verander, voor die hof gedaag, het talle ander betrokkenes dieselfde gedoen. Daily Maverick het in April berig dat daar hofaansoeke was teen 21 van die 70 verslae wat sy teen begin April uitgereik het.

Sedertdien het mnr. Gugile Nkwinti, voormalige minister van landelike ontwikkeling en grondhervorming, ’n dringende bevel teen haar bekom om die uitreiking van haar verslag oor haar ondersoek na sy aandeel in die oordrag van ’n grondhervormingsplaas van R97 miljoen in Limpopo aan ’n ANC-amptenaar, uit te stel weens vrae oor die partydigheid van een van die sleutelgetuies en omdat sy Nkwinti te min tyd gegee het om sy kant van die saak te stel.

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe. Volg ons op Whatsapp om daaglikse landbounuus op jou selfoon te ontvang.