Dit volg ná ’n verslag van die Openbare Beskermer (OB) waaroor Landbouweekblad in sy uitgawe van 12 April berig het. In dié verslag het adv. Busisiwe Mkhwebane, die OB, die departement van wanadministrasie in sy hantering van die uitbreking van brucellose op die melkplaas Goedemoed by Ventersburg beskuldig.

Dr. Petra Kitshoff, die staatsveearts, is ook ingevolge die verslag daarvan beskuldig dat sy nie die nodige bekampingsmaatreëls ingestel het nie. Kitshoff het in Bloemfontein haar reaksie weerhou totdat die departement se verklaring uitgereik word. In die verklaring sal die departement sy geloofwaardigheid om siektes in die provinsie te bekamp, probeer herstel.

BEPERKTE PROBLEEM

“Ons het ’n probleem met brucellose in die Vrystaat, maar dit is geensins so omvangryk vergeleke met die voorkoms daarvan in die noordelike provinsies nie,” sê Kitshoff. “Veronderstel ons toets net 10% van die kuddes in die provinsie, waarvan 2% dalk besmet is. Die probleem is egter die groot gros van 90% wat nie getoets word nie.”

Intussen het me. Ronél Behrens, mede-eienaar van die Waterbron-Jerseystoetery op Goedemoed, haar steun vir Kitshoff uitgespreek en haar geloof vir die samewerking wat sy en haar man, Cobus, van die staatsveearts kry. Die beesgetalle van die Waterbronstoetery is ná nege jaar bykans weer op dieselfde vlak as voor die siekte in Mei 2010 op die plaas uitgebreek het.

Volgens Kitshoff word jaarlikse toetse steeds op Goedemoed gedoen om te verseker dat die bekampingsmaatreëls doeltreffend bly. “Ons monitor ’n besmette kudde tot twee jaar nadat die toetse negatiewe uitslae oplewer,” sê sy.

Behrens het in ’n kort verklaring gesê die doeltreffendheid van die entstof RB51 neem ná drie jaar af. “Hierdie inligting, volgens Randall J. Berrier van die entstofmaatskappy Colorado in Amerika, is nie aan ons bekend gemaak of op die voubiljet van die entstof aangedui nie,” sê sy.

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe. Volg ons op Whatsapp om daaglikse landbounuus op jou selfoon te ontvang.