Die OBP het sy aanpassingstrategie rakende entstowwe teen veesiektes aan die parlement se gekose komitee vir grondhervorming, omgewingsake en minerale hulpbronne verduidelik.

Dungu het gesê klimaatsverandering die afgelope 15 tot 20 jaar het ’n impak op vee en dieresiektes.

Hoë omgewingstemperature beïnvloed die weiding, daar word langer droogtes in die Wes-Kaap, Oos-Kaap en die Noord-Kaap gesien en swaar reën het vloede meegebring in byvoorbeeld die Wes-Kaap en KwaZulu-Natal. Hierdie verskynsels is ook gedurende die winter gesien. Uitermatig koue temperature het ook voorgekom. Dit het ’n verandering gebring in die patrone hoe siektebestuur by vee toegepas moet word.

Die winters het warmer en korter geword en omdat dit vroeër warmer word, is die lente korter, wat beteken dat ’n langer somerseisoen ervaar word.

Veranderinge in die klimaat van provinsies kan al hoe duidelik gesien word. Noordwes en Limpopo kry meer reën as voorheen en sal dus beter weiding vir vee hê. Die Noord-Kaap, dele van die Wes-Kaap, Vrystaat en KwaZulu-Natal ervaar baie langer droë seisoene met minder reën wat minder weiding beteken.

Siektes

Dungu het gesê die voorkoms van langer, droër seisoene wat warmer en stowwerig is, het sekere epidemiologiese siekteveranderinge meegebring. Meer spoorvormende siektes (bakteriële siektes) soos antraks en botulisme kom nou gereelder in die somer voor. Asemhalingsiektes soos pasteurellose by beeste en skape kom deur die hele jaar voor weens meer hewige stofstorms in die somer.

Vektorgedraagde siektes soos hartwater, bloutong, Afrika-perdesiekte en slenkdalkoors kom ook in die winter voor weens die onverwagte winterreën in sekere gebiede en skielike styging in temperature. Boere moes dus hulle inentingstrategieë verander. Hulle ent nou twee keer per jaar hul diere teen bakteriële siektes en gedurende die winter teen vektorgedraagde siektes. “Dit word gedoen deur die boere wat die inligting het. Daardie sonder inligting weet nie dat hul diere deur hierdie siekte geaffekteer sal word nie.”

Dungu het gesê die bosluisbevolking en ekologie verander, wat beteken dat boere meer teen anaplasmose en rooiwater inent.

Strategie

Die OBP moes sy strategie vir onder meer entstofproduksie aanpas om by die veranderde omstandighede aan te pas.

Dungu het gesê dat sekere entstowwe nie meer periodiek geproduseer word nie, maar jaarliks sonder enige inagneming van die seisoen. So byvoorbeeld is bakteriële produkte ook beskikbaar in die somer en virale entstowwe in die winter. Produkbeskikbaarheid is ook verbeter. Die entiteit werk aan meer as tien kombinasie-entstowwe om inenting te verbeter.