Mnr. Bok van Zyl, boer van Bethlehem, het die sewejarige suiwer Chianina-os by mnr. Chistiaan de Jager van Badplaas gekoop en dit vir vier weke in sy plaasvoerkraal afgerond “om die stres uit die os se lyf te ontlaai”. De Jager boer in Suid-Afrika, Mosambiek en Italië met dié beesras.

Daarna is die os geslag en die koue gewig is bereken op 907 kg. Die karkas is by Ciglers-slaghuis van mnr. André Jooste op Bethlehem verwerk en tydens ’n spesiale promosiedag aan die publiek bekend gestel. Die vleis is vinnig opgeraap.

Van Zyl sê die os het lewend 1 335 kg geweeg en is slegs op skoon voer afgerond; geen hormone om die groei te versnel nie. Hy boer sélf die afgelope sewe jaar met Chianinas wat hy met ander goeie vleisrasbeeste kruis om die voordeel van basterkrag en dus swaarder karkasse te kry.

Hy koop ook gereeld osse by De Jager om af te rond en te slag. Dié osse rond vinniger af op dieselfde hoeveelheid voer as ander suiwer en kruisrasse, sê Van Zyl. Die besonder goeie marmering (vetverspreiding deur die vleis) is vir hom ’n uitstekende eienskap.

Chianina,karkas,vleis
Die reusagtige Chianina-karkas hang regs. In die middel is karkasse van gewone kruisrasbeeste en links is ’n paar skaapkarkasse. Foto: Christiaan de Jager

Van Zyl besit ook die Cheetau-herberg waar hy gereeld Chianina-vleis vir sy gaste voorsit.

De Jager sê die os se agterkwart het 263,5 kg geweeg, blad 110 kg, nek 84 kg, primarib 131 kg, binneboud 49,5 kg, T-been 116 kg en dikrib-borsstuk 126 kg.

Hy het ’n paar jaar gelede ’n amptelike bloktoets met ’n 12-jarige Chianina-koei by die Uitkyk-slaghuis in Pretoria laat doen. Sy het 61,56% uitgeslag. ’n ?Uitslagpersentasie van 50 – selfs 55 as die dier baie vet is en ’n ongewone liggaamsbou het – is ’n goeie riglyn vir die meeste beesrasse.

De Jager sê ’n hoë uitslagpersentasie beteken ’n groter karkas, wat vir almal voordelig is: boer, voerkraal, abattoir en slaghuis. Die Chianina het ’n goeie been-tot-vleis-verhouding vanweë sy fyn beenstruktuur en min harde vet.

biltong,Chianina
Mnr. Bok van Zyl met ’n paar biltonge wat uit die karkas gesny is. Dit was besonder sag en geurig en die vetverspreiding in die vleis was hoogstaande. Foto: Christiaan de Jager