Só skryf Mike Lee, 'n Britse agronoom wat die afgelope ses jaar in die Oekraïne werk as besturende direkteur van 'n private beleggingsgroep wat plase van 20 000 hektaar in drie gebiede in dié land bestuur.

Hy skryf in 'n blog op 'n Britse landbou-webwerf dat daar al heelwat ongevalle was en opponerende groepe wat geboue in die oostelike deel van die land beset. Watter van die groepe deur Rusland en Amerika gesteun word, is nie sy veld van kundigheid nie, maar die landbouseisoen stap aan, maak nie saak wat Poetin of Obama doen nie.

Dié onsekerheid maak boere in die Oekraïne bekommerd oor die huidige seisoen. Hoewel hulle gewasse, soos koring en kanola, goed lyk, begin gewasse in die ooste tekens van droogtestres toon. Die seisoen is 20 dae vroeër as gewoonlik, wat 'n goeie opbrengspotensiaal inhou as toestande voorkant toe gunstig is. "Die potensiaal sal beperk word as boere nie kan kunsmis koop nie omdat hulle te min geld het, inflasie styg en die wisselkoers erg wissel nie. As gaspryse boonop opgaan, sal dit teen oestyd baie duur wees om die graan te droog."

Tog merk Lee op dat die nuwe ministerie van landbou onlangs aankondigings gemaak het wat sake makliker kan maak en duidelik daarop gemik is om belegging in die landbou aan te moedig. "Van die inisiatiewe sluit in voorkeur vir Oekraïnse uitvoerders by die Europese Unie, minimum tydperke vir die huur van grond, afskaffing van beheer op die mark vir plaagdoders, ontwikkeling van organiese produkte, makliker lenings en 'n eenvoudiger prosedure om grond toe te ken. Ek kry die indruk dat die nuwe regering darem besig is om iets sinvol en doeltreffend te doen."