Mnr. Andries Wiese, hoof van landbouversekering by Hollard Insurance, het by ’n byeenkoms van die noord-streek van Landbouskrywers SA gesê hy verwag nie dat die regering binne die volgende 10 jaar oesversekering gaan begin subsideer nie.

In lande waar regerings dit doen, lewer die subsidie ’n groot bydrae daartoe om boere se premies te verlaag, wat daartoe lei dat meer boere hul oeste verseker.

In Suid-Afrika vra die versekeringsbedryf en die landbou die regering al jare lank vir so ’n subsidie.

Wiese sê die landboukomitee van die Suid-Afrikaanse vereniging van versekeraars (SAIA) spits hom daarop toe om ramp-oesversekeringsdekking op die been te kry en om oesversekering vir ’n groter hoeveelheid boere moontlik en bekostigbaar te maak. 

Kapasiteit

Die totale premies in die plaaslike landbouversekeringsbedryf beloop sowat R5 miljard, vergeleke met die totale versekeringsbedryf se premies van R124 miljard.

Van die R5 miljard is sowat R3,5 miljard vir bateversekering en R1,5 miljard vir oesversekering.

Wiese sê Suid-Afrikaanse oesversekeraars maak staat op internasionale herversekeraars, wat tot 85% van plaaslike versekeraars se risiko hiervoor dra.

“Suid-Afrika het nie die kapasiteit om die risiko self te dra nie,” sê Wiese.

Danksy die enorme grootte van die internasionale herversekeraarsmark is die Suid-Afrikaanse risiko ’n druppel aan die emmer.

Wiese sê Suid-Afrikaanse oesversekeraars is wel uitgelewer aan die koste wat die herversekeraars bepaal. “Elke keer as daar byvoorbeeld ’n groot ramp in Noord-Amerika plaasvind, het dit ’n uitwerking op ons premies hier.”

Wiese sê terwyl hy nie baie hoop het dat die regering binnekort oesversekering gaan begin subsideer nie, besef die versekeringsbedryf dat hulle “die makers van hul eie heil” moet wees.

’n Gunstige ontwikkeling is dat versekeringswetgewing in Julie verlede jaar verander het, wat beteken die bedryf kan nuwegenerasieprodukte soos indeksgebaseerde versekering ondersoek.

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.