Sy het die 2019-’20-boekjaar se geïntegreerde ouditverslag van die staat bekend gemaak.

Die Land Bank, saam met instellings soos Eskom, die Petroleum-en-gaskorporasie, Denel, die Onafhanklike Ontwikkelingstrust en die SABC spreek in hul geldstate hul bedenkinge uit of hulle as ’n lopende saak sal kan voortgaan.

Maluleke het gesê verskeie staatsinstellings se geldelike posisie was aan die einde van die boekjaar wat gister geëindig het, waarskynlik slegter as einde Maart 2020. Van hulle het ’n verlies gely en kon krediteure vir lang tydperke nie betaal nie.

Met die gereelde kollig op die probleme by groot instellings soos Eskom en die Suid-Afrikaanse Lugdiens raak die kleiner instellings verlore in die gesprek. Sy het gesê die kantoor van die OG het al die afgelope paar jaar die finansiële risiko by verskeie kleiner instellings uitgelig. As dit so voortgaan, sal hulle ’n kapitaalinspuiting van die provinsiale of nasionale regering moet kry.

Maluleke het benadruk dat hoewel daar tekens is van verbeterings by van die staats- en provinsiale departemente en hul instellings vir die 2019-’20-boekjaar, kan haar kantoor nog nie die volhoubare verbeterings sien wat verlang word om rekenpligtige mislukkings te voorkom nie. Ook nie dat dit behoorlik en volgehou deur die nasionale en provinsiale regering bestuur word nie.

Ligpunte

Dr. Shadrack Moephuli, president en uitvoerende hoof van die LNR, het in die instelling se 2019-’20-jaarverslag uitgewys dat die LNR ’n volhoubare finansiële omkeerplan ontwikkel het wat daarop gemik is om die geldelike posisie van die organisasie te verbeter.

Die plan is teen die einde van die 2018-’19-boekjaar goedgekeur en dit word nou toegepas. Teen 31 Maart 2020 was die LNR solvent aangesien sy bates sy laste met R1,6 miljard oorskry het.

Die Land Bank het intussen ook ’n verklaring uitgereik oor hoe hy sy likiditeitsprobleme wil oplos.

Die bank is steeds besig om met al sy belanghebbendes te onderhandel om ’n ooreenkoms te finaliseer om die bank uit sy verstekposisie te kry en om ’n gestruktureerde oplossing te hê vir die betaling en aflos van sy skuld.

In sy begrotingsrede het mnr. Tito Mboweni, minister van finansies, aangekondig dat die bank oor die volgende drie jaar ’n kapitaalinspuiting van R7 miljard kry. Die bank en sy krediteure het 31 Maart 2021 as teikendatum gestel om die ooreenkoms oor betalings af te handel. Die sperdatum kon egter nie behaal word nie omdat die bank en sy krediteure nie tot ’n vergelyk kon kom nie.