In 'n stap wat sy vertroue in die geleenthede in landboubeleggings in Afrika wys, het die Old Mutual Investment Group sy aandeel in UFF African Agri Investments van 28% tot 49% verhoog.

Me. Diane Radley, uitvoerende hoof van Old Mutual Investment Group, het met die bekendmaking hiervan in 'n verklaring gesê die groep is diep oortuig van dié geleenthede.

Sy sê die landbou as bateklas het globaal reeds groot momentum gekry, maar in Afrika is dit nog in sy kinderskoene, wat aan sowel plaaslike as internasionale beleggers 'n belangrike geleentheid bied.

Spits hom toe

UFF African Agri Investments spits hom toe op beleggings in die landbousektor in Afrika en is al lank 'n raadgewer vir Old Mutual Investment Group se fondse Futuregrowth Agri en Old Mutual Agri.

Luidens die verklaring word tot VSA$500 miljoen se geleenthede in landbougrond in Afrika die volgende drie jaar vir dié twee maatskappye in die vooruitsig gestel.

“Die UFF-span bied ongeëwenaarde ervaring in die arena van landbou-investering in Afrika, wat 'n uiters waardevolle toevoeging is tot ons strategie vir alternatiewe bategroei waarmee ons belegging in die res van Afrika wil uitbrei.”

Die plase waarin die twee vennote belê, moet voldoen aan verskeie internasionale organisasies se omgewings-, maatskaplike en bestuurstandaarde. Omvattende onderwys-, gesondheids- en/of behuisingsprogramme vir plaaswerkers word op plase in die portefeulje bedryf.