Dit sal dan ’n soortgelyke ondersoek wees as die een wat regter Bernard Ngoepe, die Belastingombud, onlangs oor persoonlike belastingbetalers se laat terugbetalings gedoen het. Adv. Eric Mkhawane, uitvoerende hoof van die Belastingombud se kantoor, het boere genooi om met hul klagtes na die ombud te kom.

“Dit kan ons hand sterk om ’n volledige onder- soek aan te vra,” sê hy. Me. Erika de Villiers, hoof van belastingbeleid by die SA Instituut vir Belastingkundiges (SAIT), sê daar is onlangs op ’n belasting- indaba van die instituut juis na terugbetalings van dieselrabatte as ’n probleem verwys.

’n Proses is ook aan die gang om die stelsel vir dieselrabatte te hersien en ’n konsultasieproses daaroor het begin. Dr. Requier Wait, hoof van ekonomie en handel by Agri SA, is betrokke by die konsultasieproses. Hy sê op die oomblik is boere se BTW-eise en eise vir dieselterugbetalings administratief gekoppel en dit lei tot vertragings.

Boere moet ook vir BTW geregistreer wees om vir die dieselrabat in aanmerking te kom. “Die hersiening van die stelsel gaan onder meer om die twee prosesse te skei, om te kyk na aktiwiteite wat in aanmerking kom vir die korting en ook hoe om eise deur subkontrakteurs te hanteer.”

Geen terugvoering

’n Onlangse opname wat Wait en De Villiers saam gedoen het, staaf die erns van die probleem. Alte- saam 42% van die respondente wat deelgeneem het, kla dat hulle sedert die begin van verlede jaar vertragings ondervind het.

In die opname het net 19% van respondente aangedui dat hulle verlede jaar gewoonlik minder as twee maande op uitbetalings gewag het. Bykans 47% het gesê hulle moes van twee maande tot ses maande wag, 23% moes van ses maande tot ’n jaar wag en 10% moes al langer as ’n jaar wag.

Die opname onder 770 verbruikers wat vir dieselrabatte in aanmerking kom, het meestal boere (95%) ingesluit. Die opname kom tot die gevolgtrekking dat waar terugbetalings vertraag is, kommunikasie en terugvoering van die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) kommerwekkend is.

Dit is nadat bykans 60% van die respondente aangedui het dat hulle geen terugvoering van die SAID oor die redes vir die vertragings kon kry nie. ’n Verdere 28% het aangedui daar word voortdurend nuwe dokumentasie aangevra of oudits gedoen. In bykans 40% van die gevalle is die probleme steeds nie opgelos nie.

Nie prakties

Die respondente is meestal ook ontevrede met die stelsel en die helfte meen dit het geensins oor die afgelope vyf jaar verbeter nie.

Meer as 70% van die respondente sê die besonderhede wat in die SAID se konseplogboek vereis word, is nie prakties nie, 70% gebruik nie die SAID-logboek nie en 48% glo die riglyne van die SAID oor die vereistes vir terugbetalings is onvoldoende. De Villiers en Wait sê die koste van diesel is ’n belangrike produksiemiddel vir die meeste boere.

Brandstof het in 2016-’17 sowat 9% (R12 miljard) van boere se besteding behels. “Groter duidelikheid oor die vereistes en riglyne moet deur die inkomstediens verskaf word, veral wat logboeke betref,” lui hul bevindings.

“Die meeste van die respondente vind die vereistes soos aangedui in die konseplogboek te onprakties om op hul boerderye van toepassing te wees.”

Verpligting

Mnr. Frans Malan, ’n boer van Schweizer-Reneke, is een van talle boere wat al maande lank met ’n probleem sit sonder dat ’n oplossing in sig is. In sy geval eis die SAID dat hy R384 000 van sy rabatuitbetalings moet terugbetaal omdat dit glo nie vir landboudoeleindes aangewend is nie.

“Die probleem is dat hulle niks van boerdery af weet nie en heeltemal onpraktiese inligting wil hê. Hulle verwag byvoorbeeld dat jy ná ’n dag se stropery in die aand moet kan sê hoeveel diesel daar in die tenk oor is. Hulle ken ook nie landbouwerktuie en wat ’n mens daarmee doen nie.”

De Villiers sê ’n verpligting rus ongelukkig op elke boer om aan die SAID se vereistes te probeer voldoen. “Ek weet dis nie baie prakties nie en soms moeilik, maar ongelukkig is die SAID streng met die afdwing van vereistes.

“Die beste raad wat ek iemand kan gee, is om na die Belasting- ombud toe te gaan as hy nie by die inkomstediens self regkom nie.

“Normaalweg moet ’n mens by die SAID se inbelsentrum begin met jou probleem en ’n saaknommer kry. As daar nie ’n oplossing is nie, kan jy dit daarna as ’n klagte aanmeld by die interne SAID-klagtekantoor en as dít nie help nie, kan jy die Belastingombud nader.”

Dr. Requier Wait FOTO: EBEN LIEBENBERG

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.