De Beers het in 2015 by die Noordwes-kantoor van die Departement van Minerale Hulpbronne aansoek gedoen om te prospekteer vir minerale in ’n gebied wat Swartruggens, Koster/Mabaal-stad en Groot-Marico insluit. Mmutlwa wa Noko se skriftelike teenstand het op dowe ore geval en die amptelike appèl wat by die Minister van Omgewingsake aangeteken is, is ook van die hand gewys.

In antwoord hierop het die bewaringsliggaam ingevolge die Wet op Bevordering van Administratiewe Geregtigheid (Wet 3 van 2000) ’n hersieningsproses in die Gautengse Hooggeregshof gebring om die toestaan van omgewingstoestemming te betwis. Die Minister van Omgewingsake, die streekbestuurder van minerale regulasies in Noordwes en De Beers Consolidated Investments was respondente in die saak.

ONTTREKKINGS

In Oktober het De Beers se regsverteenwoordiger aangedui dat die maatskappy die plase Modderfontein, Vergenoeg en Wonderfontein onvoorwaardelik aan die prospekteeraansoek onttrek. Dit is juis teen prospekteerwerk op dié drie plase wat Mmutwla wa Noko aanvanklik geappelleer het.

Kort daarna het die Departement van Minerale Hulpbronne ook sy aansoek teruggetrek, maar omdat die Departement van Omgewingsake nie voor die hof se sperdatum met ’n beëdigde verklaring op Mmutwala wa Noko se aansoek gereageer het nie, het die hof dit as onbeantwoorde mosie op die rol geplaas vir ’n regter om die tersydestelling van die omgewingstoestemming op 6 Mei volgende jaar te bekragtig.

Daar sal dus geen prospektering of mynaktiwiteite deur De Beers in hierdie deel van die Groot-Maricorivier se opvangsgebied toegelaat word nie.

SKOON WATER

Volgens Mmutwla wa Noko is die Groot-Marico-opvangsgebied die juweel van Noordwes en een van min rivierstelsels in Suid-Afrika wat nog skoon, vars drinkwater kan lewer. Water uit die rivier se bolope is skoon genoeg om net so uit die rivier te drink. Die Groot-Maricorivier verskaf water aan die dorp Groot-Marico en die aangrensende nedersetting Reboile, ’n verskeidenheid landbou-eenhede en die Madikwe-natuurreservaat.

Vandaar vloei dit in die Limpopo-river, wat ook water aan Suid-Afrikaanse boere, Botswana, Zimbabwe en Mosambiek verskaf.

© MessengerPeople

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.