Omnia Holdings het op 23 April in ’n Sens-verklaring op die JSE-nuusdiens gesê dat hy weens die daling in sy verdienste, wat veroorsaak is deur onder meer ongunstige marktoestande en stygende finansieringskoste, ’n proses saam met sy skuldvoorsieners begin het. Die doel daarvan is om sy bestaande skuld te herstruktureer om die groep se volhoubaarheid op lang termyn te verseker.

In dié verklaring het Omnia Holdings gesê dit is nie vir hom nodig om enige ongeskeduleerde afbetaling of herkapitalisering te doen nie. In ’n Sens-verklaring op 30 Mei het die maatskappy egter die regte-uitgifte bekend gemaak. In ’n berig in Business Day het mnr. Anthony Clark, ontleder, gesê dat Omnia aandeelhouers in sy verklaring op 23 April mislei het.

Die maatskappy het op 20 Maart in ’n Sens-verklaring gesê hy verwag dat sy verdienste per aandeel vir die boekjaar tot 31 Maart 2019 meer as 160% laer as in die vorige boekjaar kan wees. Die redes hiervoor sluit finansieringskoste vir die verkryging van Umongo Petroleum en Oro Agri, asook die bou van fase 1 van sy nitrofosfaat-aanleg in.

Eenmalige uitgawes wat bygedra het, het volgens die verklaring probleme met ’n debiteur in Angola ingesluit, asook die uitwerking van Zimbabwe se likiditeitsprobleme op sy ondernemings daar, en probleme wat die droogte vir sy program vir opkomende boere meegebring het.

Sy jongste boekjaar is verder gekenmerk deur ongunstige marktoestande soos die droogte en laat reën in belangrike kunsmismarkte, ’n wisselvallige wisselkoers, herstrukturering in die plaaslike en internasionale mynbedryf, en oorhoofse moeilike handelstoestande.

Omnia Holdings het op 6 Junie in ’n Sens-verklaring bekend gemaak dat mnr. Rod Humphris, voorsitter van sy direksie, bedank. Humphris sou aanvanklik eers in September vanjaar uit die direksie bedank het. Humphris was sedert Junie 2017 die nie-onafhanklike, nie-uitvoerende voorsitter van die groep. Hy was voorheen die maatskappy se besturende direkteur.

Omnia Holdings se resultate vir sy jongste boekjaar sal na verwagting op 25 Junie bekend gemaak word.

  • Volgens www.investopedia.com beteken ’n regte-uitgifte dat ’n maatskappy ’n uitnodiging aan sy bestaande aandeelhouers rig om meer aandele te koop, gewoonlik teen ’n laer prys. Maatskappye kan regte-uitgifte gebruik om geld te verkry wanneer hulle dit regtig nodig het. 


Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.