Hy het Maandag op die JSE se nuusdiens Sens aangekondig dat hy 100 miljoen nuwe aandele as deel van ’n regte-uitgifte sal uitreik. Die beoogde R2 miljard wat met die regte-uitgifte verkry word, moet sy skuldlas van R4,4 miljard help verlig.

In die Sens-verklaring meld die maatskappy dat die tussentydse ooreenkoms wat met sy finansiers aangegaan is om sy skuld te onderskryf, nie meer nodig is nie en nou ten einde loop. Hy het ook met sy beleggers Allan Gray, Coronation Asset Management, Foord Asset Management, Kagiso Asset Management, Old Mutual Investment Group en Prudential ’n onderskrywingsooreenkoms beklink. Dit beteken dat dié fondsbestuurders al die aandele sal opneem indien daar nie genoeg belangstelling van ander beleggers is nie.

Omnia onderneem om teen einde Augustus die omsendbrief oor die regte-uitgifte uit te stuur.

Die maatskappy het reeds einde Mei ’n regte-uitgifte aangekondig om R2 miljard van aandeelhouers te verkry om sy skuldvlakke te verlaag, maar het nie op daardie tydstip besonderhede oor die aantal nuwe aandele en die prys daarvan verstrek het nie.

Omnia, wat sake in die landbou-, mynbou- en chemiese sektor doen, se prestasie het in die boekjaar tot einde Maart 2019 weens ongunstige marktoestande en stygende finansieringskoste drasties verswak. Hy het die verkryging van Umongo Petroleum en Oro Agri, asook die bou van fase 1 van sy nitrofosfaat-aanleg met skuld en kontant gefinansier. In dieselfde tydperk het sy wins gedaal weens onder meer eenmalige uitgawes, droogte en laat reën in belangrike kunsmismarkte, en moeilike handelstoestande in die plaaslike mynbedryf.

Omnia se aandeelprys het Maandag ná die aankondiging in ’n stadium met meer as 8% tot R32,20 teruggesak. Dit het later herstel en die sluitingsprys was R33,57, wat 1,47% laer was as Donderdag se sluitingsprys van R34,07.

Omnia se aandele het tot dusver vanjaar reeds sowat 61% van hul waarde prysgegee.

Vroeër het mnr. Adriaan de Lange, uitvoerende hoof van Omnia, gesê die maatskappy is in ’n soliede posisie met ’n robuuste besigheid. Die feit dat 98% van sy aandeelhouers ten gunste van die resolusie gestem het om ’n regte-uitgifte te doen, dui ook op hul vertroue in die maatskappy se bestuur, direksie en strategie, het hy gesê.

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe. Volg ons op WhatsApp om daaglikse landbounuus op jou selfoon te ontvang.