Sy aandeelhouers sal ook die pyn ervaar wanneer hul aandele se waarde eersdaags deur ’n regte-uitgifte van R2,2 miljard verwater gaan word om die maatskappy se oorbruggingslening van R6,8 miljard te begin delg.

Die gediversifiseeerde maatskappy wat sake in die landbou-, mynbou – en chemiese sektore doen, het 'n verlies van R414 miljoen in die boekjaar tot einde Maart gely. Dit is ’n miljard rand minder as die wins van R664 miljoen wat ’n jaar gelede aangeteken is.

Mnr. Adriaan de Lange, uitvoerende hoof van Omnia, skryf die verlies toe aan ’n kombinasie van ongunstige faktore wat winsgewendheid geknou het juis in ’n tyd dat die maatskappy groot geld bestee het as deel van ’n strategie om te diversifiseer.

“Omnia het ’n moeilike bedryfsjaar agter die rug met onvoorspelbare weerstoestande, skommelings in die wisselkoers, ekonomiese onbestendigheid in Zimbabwe, dalende hulpbronpryse en voortslepende druk op die Suid-Afrikaanse ekonomie wat onder lae sakevertroue gebuk gaan. Dit het ’n ongunstige uitwerking op aanvraag gehad.”

Hoe moeilik die sake-omgewing die afgelope boekjaar was, kan gesien word aan die feit dat Omnia se bedryfsmarges van 6,7% ’n jaar gelede tot net 0,1% gedaal het. As dié syfer daal, beteken dit gewoonlik daar was minder verkope of die maatskappy moes produkte teen ’n kleiner wins verkoop.

De Lange sê die maatskappy het in 2016 met ’n diversifikasiestrategie begin. Sy kernmark begin verander en hy moes homself posisioneer om steeds mededingend en volhoubaar te wees. Daarom het hy nuwe ondernemings gekoop. 

Verkrygings

Verkrygings wat in die afgelope boekjaar aangegaan is, sluit onder meer in Umongo Petroleum en Oro Agri teen ’n gesamentlik koste van R1,8 miljard. Albei is strategiese verkrygings wat die groep vir voortgesette groei posisioneer. Oro Agri is ’n internasionale maatskappy wat in die landbousektor met AgriBio-produkte sake doen, terwyl Umongo Petroleum onder meer brandstofbymiddels en olieprodukte soos smeermiddels verskaf. Daarby is R695 miljoen vir die bou van ’n nuwe fosfaataanleg gebruik.

Dié verkrygings, saam met hoër administratiewe en verspreidingskoste en die koste om sy groeiende skuldlas terug te betaal, het daartoe gelei dat Omnia Holdings teen einde Maart vanjaar rentedraende skuld van R4,4 miljard gehad het.

“Tradisioneel was Omnia die soort maatskappy wat nie met geleende geld bedryf is nie, maar nou het ons ’n aansienlike hoeveelheid skuld in moeilike ekonomiese tye. Dié skuld moet op verantwoordelike wyse verminder word om bedrywighede te stabiliseer,” sê De Lange.

In Junie vanjaar het die groep oorbruggingskapitaal van R6,8 miljard van sy grootste finansiers verkry. Hiermee kan hy al sy lenings en oortrokke geriewe delg. Die maatskappy verwag ook ’n kapitaalinspuiting van R2,2 miljard in die vorm van ’n regte-uitgifte. 

Ander maniere

Die groep maak nie net op die regte-uitgifte staat om sy balansstaat uit die rooi te kry nie.

“Ons kyk ook na maniere om ons bedryfskapitaalvlakke te verminder en ons uitgawes te besnoei. Gelukkig het ons nou die einde van die siklus bereik waar ons kapitaalbeleggings moet maak.”

Een van die maatreëls om besparing te bewerkstellig, is om die groepstruktuur van Omnia, wat ingewikkeld is en duur is om te bedryf, te vereenvoudig, sê De Lange.

Die maatskappy hoop om in die komende boekjaar meer groei te behaal danksy groei-ondernemings soos Oro Agri, wat die afgelope 11 maande reeds R105 miljoen wins tot die groep bygedra het.

“As dié maatreëls nie genoeg is om swak ekonomiese groei te bowe te kom nie, sal ons na die groep se portefeulje moet kyk en moeilike besluite neem om te verhinder dat ons weer in so ’n situasie kom soos wat ons nou is.” 

Landbou-afdeling

Oor sy landbou-afdeling se prestasie, waar die maatskappy se bedryfswins met 35% tot R370 miljoen ingekrimp het, sê De Lange faktore soos skommelings in die wisselkoers en kostedruk weens hoër diesel- en vervoerkoste het ’n ongunstige impak gehad. Daarby het lae pryse vir landbouprodukte veral sy markte in Afrika gestrem.

In Suid-Afrika is sy landbou-inkomste erg aan bande gelê deur ’n laat seisoen waar die somerreën in baie gevalle te laat gekom het vir produsente om te plant. Omnia bou in die eerste helfte van die jaar sy kunsmisvoorraad op wat dan in die tweede helfte verkoop moet word.

“Maar in die tweede helfte van die jaar het ons met ’n baie prysgevoelige klant te doene gekry. Die laat seisoen het ook die prysgevoeligheid verhoog, want boere het lank tyd gehad om pryse te onderhandel.”

De Lange sê hy is nie ooroptimisties oor die komende somerseisoen nie.

“Ek glo ons het gesien hoe wisselvallig toestande is, enigiets kan gebeur. Ons beplan vir soortgelyke situasies as wat ons die afgelope paar jaar beleef het met droogte en laat aanplantings.”

Hy het boere en aandeelhouers die versekering gegee dat Omnia vasbeslote is om sy huidige hoë skuldvlakke te stabiliseer, maar ook toegegee dat die bestuur die groep “waarskynlik onder te veel druk geplaas” het in sy poging om deur sy verkrygings te diversifiseer en te groei.

“Ek wil die mark verseker dat hier ’n ware onderneming is, met goeie vooruitsigte, bates en mense. Ons moet net ons besigheid konsolideer, verantwoordbaarheid en prestasie verhoog en begin voordeel put uit ons verkrygings.”

As gevolg van die verlies en sy hoë skuldvlakke het Omnia se direksie besluit om nie ’n finale dividend aan aandeelhouers uit te betaal nie. Die aandeelprys het Dinsdag ná die aankondiging van die jaarresultate verbeter en teen laatmiddag op die vlak van R39,34 verhandel, wat 14,6% hoër was as Maandag se sluitingsprys.

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.