Dié gediversifiseerde chemiese maatskappy se aandeelprys het die afgelope ses maande met 179% verbeter namate sy omdraaistrategie begin vrugte afwerp het. Sy resultate vir die ses maande tot einde September toon ’n wesensverdienste per aandeel van 141c teenoor 43c ’n jaar gelede.

Die maatskappy het die afgelope twee jaar hard gewerk om sy skuldvlakke onder beheer te kry. In die ses maande tot einde September vanjaar is die netto skuld tot R1,9 miljard verlaag nadat dit ’n jaar tevore nog op R3,3 miljard gestaan het. Intussen is sy filiaal, Oro Agri, in Oktober aan die Europese landboumaatskappy Rovensa verkoop. Die transaksie sal ’n kontantinspuiting van $146,9 miljoen vir die maatskappy lewer. Dit sal sy kernskuld kan delg en selfs finansiering vir verdere verkrygings verskaf. “Die groep is goed geposisioneer om groeigeleenthede te benut deur ons kapitaal op die gepaste manier toe te wys,” sê mnr. Seelan Gobalsamy, uitvoerende hoof.

Die groep se inkomste uit sy bedrywighede het stabiel gebly op R8,2 miljard en sy bedryfswins het met 25% tot R341 miljoen gestyg danksy onder meer streng kostebesnoeiing.

Omnia se landbou-inkomste in Suid-Afrika het met 14% tot R2,1 miljard gestyg, terwyl die groep se internasionale landbousegment sy inkomste met 55% tot R1,28 miljard verhoog het. Sy bedrywighede in Australië en Brasilië het die verwagtinge oortref. Die gediversifiseerde groep se landboubelange lewer byna die helfte van sy inkomste en volgens mnr. Stephan Serfontein, finansiële direkteur van Omnia, is die groep optimisties oor die komende somerseisoen. Die tweede helfte van sy boekjaar is tradisioneel ’n groeityd vir Omnia se landbou-inkomste. “Hoër graanpryse en verbeterde weerstoestande maak boerdery ook meer ekonomies lewensvatbaar en ons kan groter aanplantings verwag.”

Met kunsmis wat tradisioneel vir boere een van die grootste uitgawes vir insette is, is daar ’n neiging dat boere meer na spesialiteitsprodukte oorskakel en meer tegnologie gebruik, ook biotegnologie, om groter opbrengste te behaal. “Jy kan dit veral sien by hoëwaarde-gewasse soos sitrus, maar ook in gewasse soos mielies waar boere moet seker maak dat hul opbrengste groot genoeg is dat dit vir hulle ekonomies volhoubaar kan wees.”

In antwoord op ’n vraag oor die hoë plaaslike kunsmispryse, sê Serfontein kunsmispryse word grootliks bepaal deur internasionale hulpbronpryse, wat die afgelope paar jaar verswak het. “Dan moet ’n mens moet die wisselkoers in ag neem wanneer jy plaaslike pryse beoordeel. Hierdie tyd van die jaar begin die kommoditeitspryse hoër beweeg en dit, tesame met die swakker wisselkoers, het ’n groot impak op die pryse, nie net van kunsmis nie, maar ook landbou-insette in die algemeen.”

Hoewel Omnia se landbou-bedrywighede ondanks Covid-19 en die grendeltyd voortgegaan het, is sy mynbou- en chemiese afdeling se prestasie in ’n mate deur die pandemie aan bande gelê. Myne was vir ’n tyd lank gesluit en die aanvraag vir chemiese produkte soos smeermiddels en petroleum-bymiddels het gedaal. Die mynbou-afdeling se bedryfswins het met 16% tot R196 miljoen gedaal. Daarteenoor het Omnia se chemiese afdeling, bestaande uit Protea Chemicals en Umongo Petroleum, in ’n mate voordeel uit die pandemie getrek omdat hy in die verhoogde aanvraag na etanol vir handreinigers kon voorsien. Die chemiese afdeling se bedryfswins het met 20% tot R109 miljoen gestyg.