Hy was ’n diep godsdienstige man, soos ook blyk uit ’n onlangse brief aan die Omnia-leierskap. In die brief het hy gesê dat sy lewe deur die Here gelei is en dat God Omnia in werklikheid gestig het en dat Sy hand die maatskappy suksesvol gelei het.

Reeds in 1951 het Winkler en mnr. Willie Marais begin om mikro-elementmengsels onder die kommersiële naam Fortifika te bemark. Hiermee was hulle hul tyd ver vooruit, aangesien die res van die wêreld toe eers oor die toediening van enkele mikro-elemente soos koper en sink in kunsmisprogramme begin praat het.

Winkler en Marais het ’n gesamentlike visie gehad en saam het hulle voortgegaan om baanbrekerswerk in die kunsmisbedryf te doen. Omnia Boeredienste is in 1953 gestig. Sedertdien het die maatskappy merkwaardige bydraes gelewer tot die kunsmisbedryf as ’n geheel. Hy is ’n toonaangewer in die bevordering van navorsing, ontwikkeling en tegnologie op hierdie gebied.

Winkler het sy sukses toegeskryf aan die “wet wat boere al miljoene jare lank navolg – werk hard en bid dat die klimaat en die reën ’n goeie oes sal gee. Ons het almal vroeg opgestaan, baie hard gewerk en met groot passie om die Here se leiding gebid,” het hy gesê. Hy het sy brief as volg afgesluit: “Die seën van die Here, en jul ou man, is met julle!”

In die laaste bestuursrede wat Winkler by Omnia gelewer het, het hy oor die toekoms gepraat met ’n aanhaling wat in die RJK Winkler-raadsaal geraam is. Dié raadsaal op die tweede verdieping van Omnia House in Bryanston is na hom genoem. “Aangesien die omgewing deur jou geskep word, hang die toekoms net van jou geestelike krag en fisieke dryfkrag af. Daar is geen ander beperkings nie. Met jou hart in die besigheid en die besigheid in jou hart sal ons krag tot krag gaan. Daar is geen twyfel nie . . .”

Winkler word oorleef deur sy vrou, Ulrike, vier kinders en kleinkinders.

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.