Die swakker prestasie word grootliks aan sy landbou-afdeling toegeskryf. Omnia, ’n gediversifiseerde verskaffer van chemiese produkte en dienste aan die mynbou-, landbou- en chemiese sektor, verdien tot die helfte van sy inkomste uit landbouprodukte.

Hy het sy aandeelhouers luidens ’n verklaring op die JSE se nuusdiens Sens aan die sikliese aard van sy landboubedrywighede herinner. Die maatskappy se wins vir die eerste ses maande van die boekjaar is histories laag. Dit begin eers momentum opbou tydens die somerplanttyd wat van September tot Desember ’n hoogtepunt bereik.

“Die kunsmis-marges weerspieël die finansiële druk wat boere beleef, asook die mededingende omgewing,” lui die groep se verklaring.

’n Wesensverlies van tussen 84c en R1,68 per aandeel word voorspel, teenoor ’n wesensverdienste van R4,20 per aandeel in die ooreenstemmende tydperk verlede jaar. Omnia het verder gewaarsku dat hy ’n verlies van tussen R57 miljoen en R114 miljoen in die ses maande tot einde September sal ly, teenoor ’n wins van R285 miljoen in die vorige ooreenstemmende tydperk.

Die groep se aandeelprys het Maandag ná die winswaarskuwing in een stadium met meer as 16% tot R97 per aandeel teruggesak voordat dit weer herstel het. Dinsdagoggend het die prys met 1,7% tot R101,85 gedaal teenoor Maandag se sluitingsprys van R103,60. Die aandeelprys het vanjaar reeds 28,7% van sy waarde verloor. 

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.