Só sê mnr. Roelf Meyer, oudminister en leidende figuur in die openbare-private-groei-inisiatief (PPGI), wat gemik is op groter samewerking tussen die regering en die private sektor ter wille van ekonomiese groei.

Meyer, van die organisasie In Transformation Initiative, het op die jaarvergadering van Bosbou Suid-Afrika gesê hy verwys nie net na die departmente wat by die PPGI betrokke is nie, maar dit geld op alle vlakke en sluit onderwys, gesondheid en elke moontlike diens in.

“Die onbevoegdheid om dienste te lewer het só erg geraak dat dit tot baie groot kommer lei, nie net by ons nie, maar ook by pres. Cyril Ramaphosa, wat dit as voorrangsaak beskou om die staat se kapasiteit te herbou.”

Meyer het gesê hoewel daar in sommige departemente ’n probleem met laksheid, onwilligheid om saam te werk en wantroue is, is daar ander departemente waar daar groot geesdrif  is om in vennootskap met die private sektor te werk. “Van die amptenare met wie ons by handel en nywerheid saamwerk, is meer passievol as waarvoor ons kon hoop.” 

Meriete

Meyer het daarop gewys dat die verval gedurende die nege jaar van die Zuma-administrasie verlore jare is. “Nou moet daar herbou word en dit kan nie oornag geskied nie. Ek wil huil as ek dink hoe groot en moeilik die president se taak is.”

Hy beskou kaderontplooiing as een van die grootste redes vir die staat se onbevoegdheid wat uitgeroei moet word. Staatsamptenare van bo tot onder moet op meriete aangestel word, want geen moderne, bewame staatsdiens kan op ’n ander grondslag funksioneer nie.

“Wat kan ons daaraan doen? In die eerste plek reken ek ons kan die president help om kapasiteit te bou. Ons is nie staatsamptenare nie en kan dit nie van binne af doen nie, maar ’n mens sien deesdae, veral op plaaslike vlak, hoe gemeenskappe die werk van munisipaliteite begin oorneem. ’n Vennootskapsbenadering kan lei tot ’n groter verbintenis en dit is wat ons met die PPGI probeer doen.”

Die inisiatief is deur Meyer en dr. Johan van Zyl, voorsitter van Toyota Suid-Afrika, begin. Die eerste sektore wat aan die beurt gekom het, was die motorbedryf en die landbousektor.

Vir die landbou is dit in die gedaante van die landbou-ontwikkelingsagentskap, Agda, wat met staatsteun ontwikkelende swart boere wil help met toegang tot bekostigbare finansiering, die ontwikkeling van vaardighede en toegang tot markte. Die PPGI behels nou al meer as 20 sektore, waarvan die bosboubedryf een is. 

Meer klem

Meyer het gesê met die Kodesa-onderhandelinge is die beste moontlike Grondwet onderhandel, maar daar moes meer klem op toepassing en maatskaplik-ekonomiese transformasie gewees het. Hy het na die voorbeelde van regstellende aksie, swart ekonomiese bemagtig en grondhervorming verwys en gesê net regstellende aksie in die openbare sektor was geslaag.

“Swart ekonomiese bemagtiging was ’n mislukking. Net ’n klein groepie onder die elite het daarby baat gevind. Grondhervorming het ook nie verloop soos dit moes nie. Die staat het sowat 10% van die land se plase opgekoop, maar dit nie aan begunstigdes oorgedra nie en die grond lê in ’n groot mate in onbruik. Nou begin die staat dit verhuur, maar sonder om die begunstigde boere in staat te stel om dit kommersieel te bewerk.”