Abrie Beeslaar

Abrie Beeslaar, wynmaker by Kanonkop, is al drie keer aangewys as die wêreld-wynmaker van die jaar.

Watter groot landbou-insig het jou aanslag verander?

Die besef dat jy deel is van die internasionale speelveld. Jy moet dus wyer kyk as net jou onmiddellike omgewing as jy regtig suksesvol wil wees. Dit is maklik om in jou omgewing klein volumes te maak, maar baie moeiliker om ’n internasionale aanslag te hê.

Het die Covid-19-jaar jou verras?

Die buiteland se gunstige sentiment teenoor Suid-Afrikaanse wyne het my verras. Die #SaveSAWine-veldtog het baie beteken vir baie kelders. Nog iets wat my verras het, was die plaaslike ouens se kreatiwiteit om die bedryf aan die gang te hou in dié moeilike jaar.

Gaan jy 2021 anders aanpak met 2020 se lesse in ag?

Ek dink ’n mens moet baie elasties wees sodat jy kan aanpas by enige omstandighede. Die pandemie het weer vir ons gewys hoe vinnig goed kan verander. In sulke tye veral moet jy moeilike besluite kan neem om jou besigheid so gesond as moontlik te hou. Ek het gesien die ouens wat beter af is, is diegene wat nie jaar in en jaar uit dieselfde resep of patroon vir hul besighede volg nie.

Wat is die grootste fout wat jy al gemaak het, en hoe het jy dit reggestel?

Een van die dinge waaroor ek nogal spyt is by Kanonkop, is dat ons ’n spesifieke blok wingerd oos-wes geplant het op aandrag van ’n konsultant, terwyl ons dit eintlik noord-suid moes plant. Dis ’n fout wat 20 tot 30 jaar lank my in die gesig gaan staar. Elke keer as ek deur die wingerd stap, raak ek weer kwaad vir myself. Ons probeer nou aanpassings maak, maar dis eintlik net skadebeheer. Maar die harde lesse laat ’n mens beter besluite neem. Soms is dit goed om dié lesse vroeg te leer, sodat jy versigtiger sal wees in die toekoms.

Voorspellings vir 2021?

Wyn van middelmatige gehalte gaan nie aftrek kry nie. Produsente gaan waarskynlik toenemend wegbeweeg van wyndruiwe vanweë die volumes en boonop is die opbrengs op jou belegging net te laag met wyndruiwe. Daar gaan baie druk wees op primêre produsente om te diversifiseer, want daar is ander landbourigtings wat meer geld gaan maak as wyndruiwe. Ons bedryf gaan dus verder krimp ten opsigte van volume, maar dit sal veroorsaak dat ons meer op gehalte klem lê.

Watter tegnologie maak die grootste verskil of verwag jy om vorentoe ’n groter rol te speel?

Die tegnologie wat by ons ’n groot verskil gemaak het, en vorentoe waarskynlik meer gaan ontwikkel, is die sortering van druiwe. Ons boer in ’n land waar die oes baie onegalig en ongelyk kan wees, daarom kan ’n sorteringsaksie baie waarde toevoeg wat gehalte betref. Ek dink daar is nog net vyf tot tien optiese sorteerstelsels in die bedryf.

Wat is jou waarnemings rondom klimaatsverandering?

Toe dit erg droog en warm was, het ek gesien hoe ongelooflik vinnig ons wingerde op die plaas aanpas by die omstandighede. Binne ’n seisoen of twee was die korrels en trosse kleiner. Een ding waaroor ek vrae het, is UV-lig. Toe ons klein was, het ons heeldag buite gespeel sonder om ooit sonroom te gebruik. Nou is jy tien minute buite en jy’s bloedrooi gebrand. Nou wonder ek, wat is die effek van UV op die trossie wat heeldag buite in die son sit? Ek sal graag data wil sien oor die effek van UV op die gehalte of styl van druiwe en die gehardheid van kultivars.

Wat is die grootste struikelblok in jou bedryf vir winsgewendheid?

Die wynprys. Ons wyn se pryse is hopeloos te laag. Die rand het baie verswak oor die jare en ons wynpryse is nie meer in ooreenstemming met internasionale pryse nie. Boonop het die ouens nie die regte pryse vir hul wyn gevra toe Suid-Afrika uit isolasie gekom het nie. Hulle het nie die selfvertroue gehad nie, want hulle was so verleë oor die kans om weer wyn in die buiteland te verkoop, dat hulle nie op die regte pryse ooreengekom het nie. Nou kan ons nie vir produsente toppryse betaal nie, want ons kry nie goeie pryse vir ons eindproduk nie.

Dit is baie moeilik om uit ’n sekere pryskategorie te breek. Jy moet heeltyd druk. Daar is ’n paar plase wat al pryse lekker opgestoot het oor die jare en R1 000 of meer vir ’n bottel wyn verdien, maar die algemene persepsie oor Suid-Afrika in die buiteland is steeds waarde vir geld.

Mnr. Andrew Jordaan boer op Spekboomberg naby Cradock in die Oos-Kaap, en is in 2018 aangewys as Skaapboer van die Jaar.

Watter groot landbou-insig het jou aanslag verander?

Om vernuwend te dink, aanpasbaar te bly, tegnologie te gebruik en met die tyd aan te pas.

Het die Covid-19-jaar jou verras?

Ek het gesien dat ’n pandemie baie vinnig kan kom. En dat ons regering in Suid-Afrika nie opgewasse is om die Covid-19- en maatskaplike probleme te bestuur en op te los nie. Ek dink dit gaan erger raak vorentoe.

Gaan jy vanjaar iets anders aanpak met 2020 se lesse in ag?

Ek dink 2021 gaan ’n moeilike jaar wees en Suid-Afrika is laaste om só ’n nadraai van ’n pandemie te beleef. Die ander groot handelstreke soos Amerika of Europa is besig om te herstel en ek meen in Suid-Afrika gaan dit moeilik wees, want die herstel duur langer. Die tekort aan geld gaan dinge vir ons moeilik maak. Daar is nuwe dinge wat ek wil aanpak, maar ek sal dit konserwatief benader. Ek meen ook ons sal moet reën kry, anders het ons probleme.

Wat is die grootste fout wat jy al gemaak het, en hoe het jy dit reggestel?

Vanuit ’n Suid-Afrikaanse perspektief moes ons vroeër in die buiteland belê en geld weggesit het. Ek meen op lang termyn gaan ons in ’n risiko inhardloop en die land gaan agteruit. Ons moes in ’n vroeër stadium besproeiingsgrond gekoop het om meer water te hê, want dit raak ál droër en as jy water het, kan jy jouself teen die risiko’s verskans.

Voorspellings vir 2021? Neigings wat nou al vorm aanneem?

Vleis gaan baie duur en skaars wees. Wolpryse sal stabiliseer. Die onrus in Suid-Afrika gaan voortduur en vererger. Ons staan op ’n naaldpunt en die Covid-19-pandemie het dit drasties vererger.

Watter tegnologie maak die grootste verskil aan jou boerdery?

Wat sal in die toekoms ’n groter rol speel? As genomika sal “saamspeel”, kan ons in die veeboerdery ’n groot verskil sien in die teling van diere wat met minder kos beter kan produseer. Alledaagse dinge, soos sonkrag, het baie boere se lewens verander, veral met die swak kragvoorsiening wat ons het.

Wat is jou waarnemings rondom klimaatsverandering?

Ons kry ál minder reën en die reën kom ál later. Droogtes duur langer en dit voel asof die uiterstes baie erger is. Die winter duur langer en jou groeityd raak al hoe korter. Water as hulpbron raak ál skaarser. Ons raak ál afhankliker van ondergrondse water vir veesuipings.

Wat is die grootste struikelblok in jou bedryf vir winsgewendheid?

By ons met besproeiing beteken die duur elektrisiteit dat ons insetkoste duur is. Maar die pryse vir ons produkte hou nie tred daarmee nie. Die swak rand maak die invoer van masjinerie moeilik. Ander kwessies is duur en swak arbeid, die duur koste van voer, langdurige droogtes en wisselvallige markte.

Mnr. Anton Viljoen Sr.

Mnr. Anton Viljoen Sr. Die Viljoen-familie boer al van 1896 in die Hexriviervallei. deesdae produseer dié boerdery meer as 2,2 miljoen kartonhouers tafeldruiwe wat na 18 lande uitgevoer word.

Watter groot landbou-insig het jou aanslag verander?

Oor die jare het ek geleer voortdurende groei is baie belangrik. Dit verseker dat jy die voordeel van skaal kan benut omdat koste die boerdery voortdurend inhaal. Hoe meer ons onderneming gegroei het, hoe meer het ek besef dis krities belangrik om my vinger op die basiese detail van die besigheid te hou.

Het die Covid-19-jaar jou verras?

Die skaal van die wêreldwye uitbreking het my verras, maar gelukkig kon ons net voor die grendeltyd ons oes insamel. Die wêreldwye gewildheid van vrugte om gesondheidsredes wat veral die sitrusboere se seisoen gunstig beïnvloed het, was ’n lekker verrassing.

Gaan jy 2021 anders aanpak met 2020 se lesse in ag?

Die grootste les was die ongunstige impak van ontydige reën op al die nuwe kultivars wat ons nou in ons boorde het. Ons sal moet oorweeg om toenemend die druiwe onder plastiekbedekking en nette te verbou om dit te beskerm.

Wat is die grootste fout wat jy al gemaak het, en hoe het jy dit reggestel?

Toe grond naby my op die mark gekom het, het ek weens versigtigheid in moeiliker jare dit nie gekoop nie. Ek moes toe later jare noodgedwonge grond verder van my af bykoop om aan te hou groei.

Watter neigings gaan vanjaar deurslaggewend wees?

Verbruikers raak ál kieskeuriger oor vrugte se smaak en voorkoms. Ons aanplantings van nuwe kultivars beoog om dié vereistes aan te pak, maar in die proses moet ons sekere kultivars uitsif wat nie voldoen aan verwagtinge aan die produksiekant nie. Dis ’n lang proses.

Watter tegnologie maak die grootste verskil?

Tegnologie wat inligting insamel en versprei, het ál belangriker geword om die nuwe, beskikbare internasionale kultivars beter te verbou en verpak. Inligtingstelsels en rekenaartegnologie het dit moontlik gemaak om self ons produkte van die plaas af uit te voer.

Wat is jou waarnemings rondom klimaatsverandering?

Daar is voortdurend minder sneeu laag af teen die berge en dit is ’n belangrike bron van water in die Hexriviervallei. Koue-eenhede, wat belangrik is vir vrug-ontwikkeling, neem in die winter af en reënval kom toenemend nie by ons langtermyngemiddelde uit nie. Wat is die grootste struikelblok vir winsgewendheid? Stygende koste van verpakking, arbeid, vervoer, ens. laat winsmarges voortdurend krimp.

Mnr. Boeram Venter

Mnr. Boeram Venter besit die Venter-boerdery naby Kirkwood, waar hy met beeste en sitrus boer.

Wat is die grootste landbou-insig wat jy al gehad en jou aanslag verander het?

Boere is prysnemers en meestal net in beheer van die grootte van opbrengs en gehalte van sy produk. Om te kan meet, is dus baie belangrik vir Venter-boerdery.

Wat in die Covid-19-jaar het jou verras?

Aan die begin van die 2020-sitrusseisoen was ons baie bekommerd of ons die vrugte geoes sou kry, asook oor logistiek en verkope op die buitelandse mark. Retrospektief het die seisoen baie goed verloop. Die vitamien C-faktor het ’n wesenlike rol in ’n hoë vraag na sitrus gespeel.

Gaan jy vanjaar iets anders aanpak met 2020 se lesse in ag?

Die wêreld het meer van gesonder kossoorte bewus geword. Ons gaan dalk meer daarop konsentreer.

Wat is die grootste fout wat jy al gemaak het, en hoe het jy dit reggestel?

My grootste fout was om net op waarneming en hoorsê te reageer en nie behoorlik met behulp van syfers ’n besluit te neem nie. Dit is is ’n gawe en seëning om ’n ingebore aanvoeling te hê, maar ’n mens moet besluite steeds op feite grond. As daar gefouteer word, moet dit so gou moontlik reggestel word om finansiële verliese te beperk.

Enige voorspellings vir 2021?

Die huidige versterking van die rand word bewerkstellig deur die onsekerheid en onstabiliteit van die Amerikaanse ekonomie. Indien Suid-Afrika nie kan werk skep en ’n hoër groeikoers bewerkstellig nie, sal die rand in 2021 weer verder verswak.

Watter tegnologie maak die grootste verskil?

Meganisasie en digitale tegnologie stel ’n boer in staat om groter te boer en meer beheer oor stelsels en dissiplines uit te oefen.

Wat is jou waarnemings van klimaatsverandering?

Die teorie rondom koolstofvrystelling is beslis ’n faktor. My waarnemings rondom die 7- en 200-jaar-weerpatroonsiklusse speel vir my ’n belangrike rol. Ná ’n lang droogte in die Wes-Kaap is daar nou weer ’n normale weerpatroon en ek vertrou dit sal vir die res van Suid-Afrika ’n hoopvolle vooruitsig wees.

Wat is die grootste struikelblok vir winsgewendheid in jou bedryf?

Die broodnodige ondersteuning van staatsinstellings om die private sektor by te staan om nuwe, oorsese markte te skep. Aan wie leen jy jou ore uit? Ons luister na almal wat raad gee, maar grond ons besluite op waarnemingsvermoë, integriteit en langtermynvoordele waarby die boerdery kan baat vind.

Mnr. Cobus Bester

Mnr. Cobus Bester van die UD Boerdery by Moorreesburg boer met koring, medics, fynwolskape, Nguni’s en dekgewasse.

Wat is die grootste landbou-insig wat jy al gehad en jou aanslag verander het?

Om nader en saam met die natuur te boer en nie maksimum wins na te jaag nie, maar wel volhoubare inkomste op lang termyn. Wat in die Covid-19-jaar het jou verras? Hoe die mens probeer aanpas.

Gaan jy vanjaar iets anders aanpak met 2020 se lesse in ag?

Ek meen een van die lesse uit 2020 is verseker hoe belangrik gesondheid is vir die mens. En dit geld dan ook vir diere en ons grond. Te veel mense of diere bymekaar lei tot siektes en so ook te veel plante opmekaar.

Wat is die grootste fout wat jy al gemaak het, en hoe het jy dit reggestel?

My grootste fout was om swaarverdiende geld by ander te belê. Glo in jouself, belê in jouself en slaan die kasregister self. Hou beheer.

Voorspellings vir 2021? Neigings wat nou al vorm aanneem?

Die weer lyk gunstig vir 2021 met dié dat Australië goeie vooruitsigte voorspel. Suid-Afrika se somerreënvoorspellings lyk ook belowend. Die wind in die Kaap is op die oomblik nader aan normaal. Indien die inenting teen die koronavirus suksesvol is, sal die ekonomie verbeter.

Mnr. Cobus van Coller

Mnr. Cobus van Coller en sy vrou, Magdel, boer op die plaas Libanon by Viljoenskroon. Graanverbouing, Vleismerino’s en ’n beeskudde word deur middel van bewaringsboerdery in harmonie gebring.

Wat is die grootste landbou-insig wat jy al gehad en jou aanslag verander het?

Om die belangrikste hulpbron van die mensdom, grond, te begin verstaan en dat 70% van alle lewe op aarde in die grond voorkom. Ek het bewaringslandboupraktyke op saaigrond en weidings begin toepas.

Wat in die Covid-19-jaar het jou verras?

Eers het die internasionale media angs en onsekerheid geskep. Maar die mens se aanpasbaarheid en entrepreneurskap om te oorleef was deurslaggewend. Dan ook om te sien hoe min ’n mens regtig nodig het om oor die weg te kom. Dit het ook groot besparings deur herstrukturering in besighede teweeg gebring.

Gaan jy vanjaar iets anders aanpak met 2020 se lesse in ag?

Covid-19 het my beslis geleer om meer gehalte-tyd saam met my gesin, familie en vriende deur te bring in die toekoms. Ons beoog ook om personeel met beter vaardigheid aan te stel wat meer verantwoordelikheid en aanspreeklikheid kan aanvaar.

Wat is die grootste fout wat jy al gemaak het, en hoe het jy dit reggestel?

’n Boer maak elke dag foute. Wat saak maak, is hoe jy dit regstel en daaruit leer. Ek het al ’n plaas te vinnig gekoop sonder data oor grondchemie en sonder om die grondpotensiaal te bepaal. Dit het omtrent drie jaar gekos om die grond 100% produktief te kry.

Voorspellings vir 2021? Neigings wat nou al vorm aanneem?

Die verbruiker se manier van aankoop en besteding verander en meer aanlyn besigheid word gedoen. Selfs in boerdery word algemene en veeveilings aanlyn aangebied.

Watter tegnologie maak die grootste verskil of verwag jy om vorentoe ’n groter rol te speel?

Presisieboerdery het die grootste rol by my gespeel, maar die nuwe tegnologie in presisie het só verbeter dat dit ’n onmisbare deel in my boerdery geword het.

Hoe weet jy as jy nie kan meet nie? Wat is jou waarnemings rondom klimaatsverandering?

Dit is ’n groot bekommernis om te verneem van die ysgletsers wat só vinnig in Antarktika smelt. Die seisoene het definitief verander. Boere plant nou later en die winters is nie meer so koud nie. Maar die slim manne sê dit is net ’n sikliese verskynsel.

Wat is die grootste struikelblok vir winsgewendheid in jou bedryf?

Vir my is die grootste struikelblokke stygende insetkoste teenoor kommoditeitspryse, gesubsidieerde ingevoerde produkte, diefstal en die veiligheid van gesinne en werkers op plase.

Aan wie leen jy jou ore uit?

Aan die georganiseerde landbou soos Graan SA wie se inligting op feite geskoei is, en natuurlik aan my vrou.

Mnr. Danie Bester

Mnr. Danie Bester boer by Balfour in Mpumalanga, was vanjaar die watertafellande-wenner in die Groei vir Goud-kompetisie en TLU SA se Jongboer van die Jaar.

Wat is die grootste landbou-insig wat jy al gehad en jou aanslag verander het?

Die gebruik van tegnologie tesame met bewaringslandboupraktyke, en om my eie proewe en navorsing op die plaas te begin doen.

Wat in die Covid-19-jaar het jou verras?

Die groot oes! En die feit dat boerderye suksesvol kon aangaan tydens die inperking.

Gaan jy vanjaar iets anders aanpak met 2020 se lesse in ag?

Definitief. Ons leer mos maar elke jaar hoe om die volgende jaar beter aan te pak.

Wat is die grootste fout wat jy al gemaak het, en hoe het jy dit reggestel?

Ek het te laat begin aandag gee aan grondgesondheid.

Voorspellings vir 2021? Neigings wat nou al vorm aanneem?

Dit gaan ’n goeie seisoen wees, vir die hele land. Dit reën goed, maar die temperature is laag en hitte-eenhede kan ’n probleem wees. Siektes en plae gaan ook meer aandag verg.

Watter tegnologie maak die grootste verskil of verwag jy om vorentoe ’n groter rol te speel?

My Agleader-SMS-sagteware wat al my data verwerk en besluitneming vergemaklik. Ook die feit dat ek al my toerusting vanaf enige plek kan monitor en veranderinge kan maak. Nuwe “Multi-Spectral on-the-go”-tegnologie om plantgesondheid te monitor en stikstofbemesting doeltreffender te maak. Dis baie beter as hommeltuig- of satelliettegnologie.

Wat is jou waarnemings om klimaatsverandering?

Die weer skommel ál meer rond, reënbuie raak minder, met meer intense buie wat val. Ons moet langer kan oorleef tussen reëngebeurtenisse, veral gedurende Januarie en Februarie.

Wat is die grootste struikelblok vir winsgewendheid in jou bedryf?

Ons is mos maar prysnemers, en as jy nie jou huiswerk doen nie, betaal jy maklik te veel.

Juan Louw (regs) en Demitrius Sas

Juan Louw (regs) en Demitrius Sas is twee jong boere van Carnarvon in die Bo-Karoo wat drie jaar gelede hul skape in dieselfde kraal gejaag het en saam begin boer het. ondanks ’n jare lange droogte in hul omgewing byt die twee nog vas en is hulle optimisties oor die toekoms en hul boerdery.

Wat is die grootste landbou-insig wat jy al gehad en jou aanslag verander het?

Juan: Niemand kon voorspel dat die droogte wat ons die afgelope paar jaar beleef het, só erg sou raak en só ’n groot ramp sou raak nie. Dit het my manier van boer heeltemal verander. Ons boer nou meer intensief in ons ekstensiewe wêreld. En ek het weer tydens die droogte die waarheid in ’n ou gesegde geleer: Om te meet is om te weet.

Demitrius: Dat daar wel ’n toekoms vir alle boere in Suid-Afrika is. Dit hang wel baie af van jou houding en bereidwilligheid.

Wat in die Covid-19-jaar het jou verras?

Juan: Hoe belangrik die verbruiker waarlik is. Ons wol- en vleismarkte is vinnig geraak toe die aanvraag skielik verminder en verbruikers onseker raak oor hul inkomste.

Demitrius: Die impak van die pandemie – hier by ons, maar ook wêreldwyd. En dat soveel finansiële steun nodig is vanweë al die werkverliese. Dit het baie erger geword as wat ons verwag het.

Gaan jy vanjaar iets anders aanpak met 2020 se lesse in ag?

Juan: Ek hou daarvan om nuwe dinge aan te pak. En dit help nie ons is bang vir die toekoms weens wat in die verlede gebeur het nie. Maar wat ek wel geleer het, is dat ons moet begin dink aan alternatiewe inkomstestrome. Die Karoo bly gewilder raak as ’n toerismebestemming en dit is iets wat ons volgende jaar ’n kans wil gee.

Demitrius: Ek wil net ons boerdery laat groei en ’n paar nuwe dinge aanpak. Tyd en reën en begrotings gaan dit egter bepaal. Maar dan het 2020 my ook geleer om nie te ver vooruit te beplan nie en dinge amper net dag tot dag te vat.

Wat is die grootste fout wat jy al gemaak het, en hoe het jy dit reggestel?

Juan: Ek het al baie skoolgeld betaal omdat ek nie altyd na raad luister nie. Ek hou daarvan om dinge self te probeer en te ervaar, maar dit werk nie altyd so goed uit nie. Ek wil ook te vinnig resultate sien en in ons wêreld is geduld noodsaaklik. Deesdae probeer ek myself meer omring met mense wat my nie van die wal af in die sloot help nie en wat ek vertrou om my foute uit te wys.

Demitrius: Dit kan nou na ’n eenvoudige ding klink, maar ek het besef dat ek my lammers te lank by die ooie los. Nou speen ek vroeër sodat die ooie vinniger herstel en weer in produksie kan kom.

Voorspellings vir 2021? Neigings wat nou al vorm aanneem?

Juan: Dit lyk definitief na ’n beter reënseisoen. Ek glo dus baie boere gaan vashou aan hul vee en weer probeer om hul skaapgetalle op te stoot. Daarom sal daar minder skape beskikbaar wees en dit sal pryse goed laat styg.

Watter tegnologie maak die grootste verskil of verwag jy om vorentoe ’n groter rol te speel?

Juan: Tegnologie wat jou kan help meet. Omdat ons baie meer intensief boer, is dit nog belangriker om te weet wat jou insette is en wat jy eindelik uitkry. 

Wat is jou waarnemings om klimaatsverandering?

Juan: Aardverwarming is hier om te bly en ons boerderye sal daarby moet aanpas.

Demitrius: Dit lyk vir my asof ons droogtes langer raak. Of dalk meer intens vanweë warmer temperature. En dit lyk asof die weer meer stormagtig raak.

Wat is die grootste struikelblok vir winsgewendheid in jou bedryf?

Juan: Droogte bly ons grootste knelpunt.

Demitrius: Ja, droogte verniel ons die meeste. Veediefstal en roofdiere bly ook vir ons probleme. En vir ons as jong boere is die tekort aan hulpbronne en geld om eie grond te bekom ook maar ’n groot struikelblok.

Dr. odette curtis-scott

Dr. Odette curtis-scott is Direkteur van die Overberg-renosterveldbewaringstrust wat reeds sowat 3 000 ha skaars en bedreigde renosterveld met die hulp van boere kon bewaar.

Wat is die grootste landbou- ekologiese insig wat jy al gehad en jou aanslag verander het?

As ’n mens ’n ekostelsel, soos renosterveld, wat só delikaat en verklein is, wil bewaar, is dit belangrik om mense daarvoor te laat omgee, hulle te wys watter ongelooflike verskeidenheid daar in die renosterveld op hul grond is.

Wat in die Covid-19-jaar het jou verras?

Hoe produktief ons kan wees as ons nie so dikwels en ver na vergaderings toe hoef te ry nie.

Gaan jy vanjaar iets anders aanpak met 2020 se lesse in ag?

Ek dink ons gaan probeer om gewone vergaderings so ver moontlik digitaal te hou en ons tyd produktiewer te benut. Net waar nodig, sal fisieke vergaderings gehou word.

Voorspellings vir 2021? Neigings wat nou al vorm aanneem?

Dis moeilik. Ná drie baie droë jare het ons goeie reën en rekordgraanoeste gehad. Dit stem almal meer optimisties. Die weer beïnvloed mense se houding oor die toekoms. As dit goed gaan, is mense gewilliger om te bewaar. Ek hoop dit kan in 2021 voortduur.

Watter tegnologie maak die grootste verskil of verwag jy om vorentoe ’n groter rol te speel?

Die GIS-data waartoe ons deesdae toegang het, help ons om beter te beplan en te sien wat op die grond aangaan. Dit gaan in die toekoms belangriker word om veranderinge in hoe grond gebruik word, en die uitwerking van klimaatsverandering te monitor. Dit kan ook help om te sien waar grond onwettig getransformeer is. Omdat die relevante owerhede elke aksie van grondeienaars kan waarneem, sal ons in die toekoms beter beheer kan uitoefen oor veranderinge in landskappe.

Wat is jou waarnemings om klimaatsverandering?

Die grootste kwessie is die wisseling tussen uiterstes en die risiko wat dit vir boere inhou. Dit, en onsekerheid, kan boere angstig maak. Die uiterste weergebeure en optrede van sekere boere hou risiko’s vir renosterveld in. As ons veerkragtig wil wees in ’n staat van klimaatsverandering, moet ons ons natuurlike stelsels en natuurlike hulpbronne beskerm.

Wat is die grootste struikelblok in jou bedryf vir finansiering?

Om langtermynfinansiering te kry, maak ons situasie besonder moeilik. Dis makliker om finansiering vir ’n spesifieke projek te kry waarin die finansier gou tasbare voordele kan sien, maar nie so maklik om finansiering te kry om ons organisasie in bedryf te hou en te laat funksioneer nie. Alle nieregeringsorganisasies is in dieselfde bootjie – ons lewe in ’n onvoorspelbare tyd met onvoorspelbare hulpbronne. Ons moet leer om dit met wysheid te bestuur.

Aan wie leen jy jou ore uit?

Ek luister na enigiemand wat vir die omgewing omgee, of wat wil weet hoe- kom hulle vir die omgewing moet omgee. Ek is altyd hier om na die grondeienaars te luister en saam met hulle oplossings te soek. Ons ingesteldheid teenoor dinge kan verskil, maar daar is altyd maniere om saam te werk.

Mnr. Pieter du Toit

Mnr. Pieter du Toit is besturende direkteur van die Dutoit Groep.

Wat is die grootste landbou-insig wat jy al gehad en jou aanslag verander het?

Dat berekende risikoneming in die landbou ryklik beloon word.

Wat in die Covid-19-jaar het jou verras?

Dat die wêreld werklik tot stilstand kon kom. Ek was ook verras oor hoe vinnig mense hul gewoontes aangepas het. En dan die spoed waarteen ’n entstof ontwikkel is.

Gaan jy vanjaar iets anders aanpak met 2020 se lesse in ag?

Ons wil konsentreer op sake wat werklik belangrik is en wat ’n verskil kan maak. ’n Mens moet nader aan ander mense se gevoelens leef.

Wat is die grootste fout wat jy al gemaak het, en hoe het jy dit reggestel?

Om blindelings te vertrou. Nou reageer ek vinniger op ongunstige seine en ek stel nie bewese beginsels ter syde nie – ek compromise nie.

Voorspellings vir 2021? Neigings wat nou al vorm aanneem?

Rentekoerse gaan langer laag bly, die rand gaan onstabiel wees en daar gaan ’n massiewe onderskeid wees tussen bedrywe wat minder en meer gevoelig is vir Covid-19.

Watter tegnologie maak die grootste verskil?

Die verwerkingspoed van hardeware wat outomatisering en slimmasjiene bemagtig.

Wat is jou waarnemings om klimaatsverandering?

Daar is meer ekstreme abnormaliteite.

Wat is die grootste struikelblok vir winsgewendheid in jou bedryf?

Eskom, sekuriteit en landelike infrastruktuur.

Aan wie leen jy jou ore uit?

Gewoonlik mense soos Jordan Peterson (’n Kanadese sielkundige) en Warren Buffett, maar tans ook Elon Musk en Emmanuel Macron.

Mnr. Robert Graaff is besturende direkteur van Graaff Fruit en boer in die Witzenbergvallei in die Wes-Kaap.

Wat is die grootste landbou- insig wat jy al gehad en jou aanslag verander het?

In die vrugtebedryf is mense ons grootste bate. As mense – van reg bo tot heel onder – trots is op wat hulle doen, weerspieël dit in die gehalte van die produk en dan is dit vir almal belangrik om na die besigheid om te sien.

Wat in die Covid-19-jaar het jou verras?

Baie! Maar dit het net weer bevestig dat gesonde kos altyd in aanvraag sal wees.

Gaan jy vanjaar iets anders aanpak met 2020 se lesse in ag?

Ons gaan beslis meer klem lê op mense se gesondheid, higiëne en veiligheid. Dis nou deel van die samelewing.

Wat is die grootste fout wat jy al gemaak het, en hoe het jy dit reggestel?

Om risiko’s te loop sonder om die regte huiswerk te doen en inligting in te samel. Ons is nou baie meer konserwatief wanneer ons nuwe produkte en kultivars aanplant. Ons doen ook meer proewe in verskeie mikro-klimate sodat ons kan bevestig dat dit wat ons plant, by daardie spesifieke mikro-klimaat pas.

Voorspellings vir 2021? Neigings wat nou al vorm aanneem?

In ons bedryf sal daar waarskynlik meer klem op “programbesigheid” wees, pleks van om die ope mark te benader met die hoop op ’n beter prys. Die low-touch economy (’n term wat verwys na sake doen onafhanklik van aangesig-tot-aangesig-kontak tussen klante en verkopers) sal vir ’n rukkie met ons wees.

Watter tegnologie maak die grootste verskil of verwag jy om vorentoe ’n groter rol te speel?

Die verbouing onder nette. Hoewel dit duurder is, beskerm jy jou besigheid teen baie risiko’s. Dit verseker ’n produksietoename van 5% en ’n toename van 10% in klas 1-vrugte. Dit maak ’n groot verskil aan die slotreël op jou finansiële staat en verskaf baie minder slapelose nagte.

Wat is jou waarnemings om klimaatsverandering?

Dit is wêreldwyd ’n groot bekommernis. Die klimaat is meer onvoorspelbaar en ons sal ons benadering by dié werklikheid moet aanpas.

Wat is die grootste struikelblok vir winsgewendheid in jou bedryf?

In ’n wêreld wat baie vinnig verander, is dit moeilik om reg te beplan. ’n Besigheid moet dus vinnig kan aanpas en prioritiseer. Die politiek in Suid-Afrika maak dit ook nie maklik om langtermynbesluite te neem nie.

Mnr. Tonie Linde is uitvoerende hoof van die Haasjeskop-boerdery by Caledon en vennoot by bdk-ouditeure.

Wat is die grootste landbou-insig wat jy al gehad en jou aanslag verander het?

Doen die basiese dinge perfek reg en bou dan op daardie fondament.

Wat in die Covid-19-jaar het jou verras?

Die belangrike rol wat die georganiseerde landbou, spesifiek Graan SA, in beleidsvorming speel en hoe belangrik ’n verteenwoordigende stem op daardie vlak is.

Gaan jy vanjaar iets anders aanpak met 2020 se lesse in ag?

Elke jaar bring lesse. Ons sal definitief probeer om verlede jaar se foute te verbeter.

Wat is die grootste fout wat jy al gemaak het, en hoe het jy dit reggestel?

Ek het ’n ander boer se bemestingsprogram by ons probeer dupliseer sonder om ons unieke grond- en klimaatstoestande in ag te neem. Die regstelling was om terug te keer na die basiese elemente van graanboerdery, soos opkoms, plantestand en plantgesondheid voordat ons fancy probeer raak met doepas en voeding. Luister na mense, maar neem daaruit wat vir jou op jou plaas werk.

Voorspellings vir 2021? Neigings wat nou al vorm aanneem?

Wie wil homself uitgee as ’n ekonoom of toekomskundige ná 2020?

Watter tegnologie maak die grootste verskil of verwag jy om vorentoe ’n groter rol te speel?

Voorspellende ontledings (predictive analytics) in die landbou. Dit is die vermoë om groot datastelle te verwerk, ontleed en dan met behulp van voorspellingsmodelle en masjienleer waarskynlike scenario’s op ’n boord, ’n gewas of ’n dier tydens ’n produksiesiklus te kry en daarvolgens die optimale ingrypings en insette te bepaal.

Wat is jou waarnemings om klimaatsverandering?

Ons in die Overberg is ’n taamlik gematigde streek en hoewel 2019 een van die droogste jare die afgelope 60 jaar was, was 2020 weer normaal tot bogemiddeld. Maar ek sien die impak in die meer ekstreme gebiede soos die Boesmanland en Karoo.

Wat is die grootste struikelblok vir winsgewendheid in jou bedryf?

Die gebrek aan genetiese vordering by koringkultivars.

Aan wie leen jy jou ore uit?

Ek is ’n blootstellingsvraat. Ek probeer met soveel moontlik mense oor ’n verskeidenheid onderwerpe gesels, en dan die lesse daaruit haal wat vir my werk.

Vir nog menings, hou die volgende uitgawe dop.