“Die sprinkane is nog in hul voetgangerstadium. Daar word nou groot pogings aangewend om die sprinkane te bespuit voordat hulle begin vlieg,” sê mnr. Nicol Jansen, voorsitter van Agri Noord-Kaap.

“Dis ongewoon om sulke groot swerms te sien. Daar is besluit om helikopters te gebruik, want die spanne wat met bakkies werk, kan nie voorbly nie.”

Dr. Gerhard Verdoorn, bedryfsbestuurder by CropLife SA, sê “byna die hele Kalahari is vol sprinkane.” Verskeie swerms sprinkane kom veral rondom en noord van die Benede-Oranjerivier voor, veral by onder meer Askham, Upington, Keimoes en Van Zylsrus.

Vermoedelik het die sprinkane begin uitbroei ná die goeie reën wat die afgelope paar weke in die omgewing voorgekom het. Verdoorn sê boere moet uitbrekings dadelik by hul distrik se sprinkaanbeampte aanmeld of met die gifdepot op De Aar of Upington in verbinding tree.

Boere in die droë dele van die Oos- en Wes-Kaap waar reën onlangs geval het, word ook aangeraai om op die uitkyk te wees vir sprinkane en om enige uitbrekings dadelik aan te meld.

Rook en wind

Mnr. Jors van der Westhuizen, ’n rosyn-en-wyndruifboer van die distrik Grootdrink langs die Benede-Oranjervier, sê hulle moes vroeër vandeesmaand sprinkane in hul wingerde en op hul gesaaides beveg. “Een swerm tussen Groblershoop en Grootdrink was 16 km lank.”

Van der Westhuizen sê hulle kon nie gif gebruik om die sprinkane in die wingerde te bekamp nie. “Ons het dae lank die masjinerie met waaiters wat ons gewoonlik gebruik om die wingerde te bespuit, gebruik om die sprinkane te verwilder. Ons het ook bande rondom die wingerde aan die brand gesteek, want die rook verdryf ook die sprinkane.”

Van der Westhuizen sê hoewel die sprinkane aan van hul gesaaides en wingerde gevreet het, weet hy nie van enigiemand in die distrik wat groot verliese gely het nie.