Die Johannesburgse varsproduktemark het op 13 Julie ’n daaglikse omset van slegs R13 miljoen gehad weens die gewelddadige onluste, terwyl die mark op dieselfde dag in 2020 ’n omset van R38 miljoen gehad het. Die varsproduktemark in Durban het groot verliese gely omdat dit van 12-15 Julie moes sluit.

Mnr. Deon van Zyl, handelshoof van die Grow Markagentskapgroep, beraam die Johannesburgse varsproduktemark het sowat R50 miljoen in omset weens vertraagde verkope verloor. “Die Durbanmark het egter meer skade gely omdat dit vir vier dae moes sluit. Die situasie op die markte is nou vreedsaam, maar die vraag is steeds baie hoog. Ons Durbanagentskap is besiger as wat dit ooit die afgelope 20 jaar was.”

Goeie getuigskrif

“Die normale verspreidingskanale deur die groot kettingwinkels is uiteraard nog nie herbou nie en is dus nie funksioneel nie. Die informele sektor moet nou intree waar die formele infrastruktuur afgebreek is. Dit is ’n uitstekende getuigskrif vir die vermoë van Suid-Afrikaanse varsproduktemarkte om vinnig ná ontwrigting voedselvoorsiening te verseker. Dit is ook ’n bewys van die informele sektor se vinnige aanpasbaarheid by onvoorsiene omstandighede,” sê Van Zyl.

“Ons voorspel dat die verkope op die varsproduktemarkte vir die afsienbare toekoms redelik goed sal wees. Die prys op die Durbanmark is tans baie hoog omdat die gaping wat die vier dae van onluste veroorsaak het, gevul moet word. Sodra dit gevul is, sal pryse normaliseer. Die vraag op veral die Durbanse varsproduktemark sal effens hoër as normaal wees, waarskynlik tot supermarkte herstel het.”

Mnr. Jaco Oosthuizen, uitvoerende hoof van die RSA Groep, waarsku dat die bedryf nie die ekonomiese werklikhede van die situasie uit die oog moet verloor nie. “Die hoër prys is ’n funksie van die vraag en aanbod wat deur ’n abnormale situasie beïnvloed is. Die informele sektor het ook ’n koste om voedsel aan die verbruiker te verskaf. Die kleinhandelprys sal dus waarskynlik effens hoër as normaal wees.

“Hoewel die toevoerlyne vinnig sal herstel en die prys dan sal normaliseer, moet ons in gedagte hou dat hierdie situasie nie die ekonomie versterk het nie, maar verswak het. Ons moet dus nie ooroptimisties wees nie.”

Kommunikasie

Oosthuizen het luidens 'n verklaring, in sy kapasiteit as ondervoorsitter van die produsentemarkagentskap (PMA) in Suid-Afrika, gesê die varsproduktebedryf moes al vantevore planne beraam om sterk te staan, saam te werk en te verseker dat Suid-Afrika se voedselsekerheid gehandhaaf word.

“Kommunikasie reg oor die bedryf is nou noodsaaklik om ons gesamentlike sukses te verseker. Kom ons bly in kontak met mekaar en dra akkurate inligting so vinnig en doeltreffend moontlik oor deur platforms soos PMA. Kom ons gebruik die krag van ons verbintenisse om saam vorentoe te beweeg.”

PMA moedig sy lede aan om van sy platform gebruik te maak om mekaar in die huidige ongekende omstandighede te kontak en te ondersteun.

PMA vra ook dat mense van SA Harvest en OneFarm Share gebruik maak om te verseker dat vars produkte gestuur word na mense wat dit benodig. Kontak mnr. Ozzy Nel (072 128 1166) of me. Margalite Williams (079 495 4433) van SA Harvest, of mnre. Steve Wyllie (082 895 9353), Sakhile Mthembu (061 3303307) of Jaco Crafford (062 093 6225) vir nog inligting.

Kontak PMA by ljones@pma.com vir nog inligting of om kontak met ander lede in die bedryf te maak.