Mnr. Philip Swart, bestuurder van produsentsedienste by die MPO, sê dit beloop in geldwaarde skade van sowat R6 miljoen. “Boonop het melkkopers ook skade gelei met sowat 440 000 liter tot 450 000 liter melk wat van hul kant af weggegooi moes word.

Teen ’n beraamde koste van R7 per liter, wat onder meer vervoerkoste insluit, maar nie die waarde wat hulle op die mark vir die melk sou kry nie, beloop hul skade ook digby R3 miljoen.”

Swart sê Suid-Afrikaanse melkboere produseer sowat 9 miljoen liter melk per dag, waarvan KwaZulu-Natal sowat 28,5% lewer. “Die provinsie produseer dus sowat 2 miljoen liter melk per dag, wat beteken oor dié tydperk is omtrent die helfte van die provinsie se melkproduksie in een dag verlore.

“En dít boonop in ’n tyd dat ons juis laer melkproduksie as in die ooreenstemmende tyd verlede jaar ervaar.” Swart wys daarop dat vanjaar se melkproduksie net meer as 3% laer is as in die ooreenstemmende tyd verlede jaar.

LAER PRODUKSIE

“Die feit dat boere ook al taamlik laat in hul produksiesiklus staan, beteken die agterstand sal nie sommer weer ingehaal kan word nie. Ons meen dit gaan ’n ongunstige uitwerking op melkkopers se verskaffing aan die mark hê.”

Swart meen dit kan ook die verbruikersprys laat styg, aangesien die skaarsheid van ’n produk die prys kan laat styg. “Tyd sal leer, maar dit is basiese ekonomie.”