Me. Sandy la Marque, uitvoerende hoof van die KwaZulu-Natalse landbou-unie (Kwanalu), sê volgens voorlopige bevindings is elke sektor in die provinsie se landbou-ekonomie op die een of ander manier nadelig geraak deur die onrus middel-Julie.

Sy sê van die gevolge sluit in werkverliese, tyd en koste wat nodig is om handel te laat herstel, geld wat nodig is vir die heropbou van baie beskadigde dorpe - wat hul ekonomiese lewensvatbaarheid bykomend sou benadeel, en brandstigtingaanvalle op plase wat hul produktiwiteit en aflewerings verminder.

“Die impak is ernstig en sal nog vir baie maande, indien nie jare nie, gevoel word. Ons het steeds ’n gebrek aan veiligheid vir die vervoer van goedere en dienste. Ons roetes moet van plaas tot vurk beveilig word. […] talle ander ingrypings word vereis en [dit] sal ’n uiterste verskuiwing in die benadering en toewyding deur die regering en [sy] leierskap verg.”

Mnr. Andrew Russell, raadsvoorsitter van SA Canegrowers, sê in ’n verklaring “onherstelbare verliese” wat suikerrietboere as gevolg van die skade in die middel van hul oesseisoen gely het, kan ’n geskatte R600 per ton van die oes wat hulle gewoonlik lewer, beloop. Gesamentlik word dit op meer as R211 miljoen beraam.

“[...] alle suikermeulens in KwaZulu-Natal moes gedurende [daardie] week hul bedrywighede staak, aangesien hulle weens die onderbrekings van vervoerroetes en blokkades by meulens nie veilige aflewerings van suikerriet van ons produsente kon ontvang nie.”

Mnr. Thinus van Zijl, hoof- uitvoerende beampte van Agri Gauteng, sê hoewel plase in Gauteng grotendeels nie direk deurgeloop het onder die onrus wat daar elders was nie, het aflewerings aan, verhandeling by en insameling van Gautengse varsproduktemarkte in daardie stadium met tot 80% gedaal.

“Die vragmotors wat produkte en kos tussen Gauteng en KwaZulu-Natal vervoer, veral sitrus na hawens, is kwaai deur die onluste geraak. Die bedrywighede het egter weer redelik vinnig toegeneem en dinge is meestal weer normaal.”

Van Zijl het bygevoeg daar moet toegesien word dat varsproduktemarkte in die toekoms voldoende beveilig word sodat produsente en kopers die gemoedsrus kan hê om die markte te besoek vir hul aflewerings en aankope.