Die sluiting van die N3 het onderbrekings in die voorsieningsketting van die drie grootste kleinhandelsgroepe in Suid-Afrika (Shoprite, Pick n Pay en Massmart) veroorsaak, asook onderbrekings in voorsiening aan fabrieke in KwaZulu-Natal. Goedere wat elders in die land vervaardig is, is in die algemeen nie geraak nie.

Luidens die verklaring funksioneer die N3, ’n noodsaaklike handelsroete, tans soos normaal. Meer as 100 vragmotors per uur het teen Sondagoggend deur beheerpunte na Durban beweeg. Daar was ook sterk verkeersvloei vanaf Durban na ander bestemmings in Suid-Afrika asook buurstate.

Mnr. Ebrahim Patel, minister van handel, nywerheid en mededinging, me. Mmamoloko Kubayi-Ngubane, minister van toerisme, me. Khumbudzo Ntshavheni, minister van klein besigheidsontwikkeling, en mnr. Pravin Gordhan, minister van openbare ondernemings, het die N3 naby Heidelberg gedurende die naweek besoek.

Mededingingswet

Patel het ’n vrystelling van sommige bepalings van die mededingingswet uitgereik sodat ondernemings kan saamwerk om te verseker dat basiese voedsel en verbruikersitems, noodprodukte, mediese en higiëniese voorrade, geraffineerde petroleumprodukte en skoonmaakprodukte beskikbaar is.

Volgens die verklaring sal die skade aan fabrieke en kleinhandelpersele in KwaZulu-Natal ’n noemenswaardige impak op die ekonomie, werksgeleenthede en toegang tot goedere en dienste hê, nie net in KwaZulu-Natal nie, maar ook die res van die land. Die meeste fabrieke en persele het egter die onluste oorleef en die regering probeer tans om onderbrekings aan produksie te verminder.

“Die onmiddellike aandag is om die voorsiening van kos, medisyne en basiese goedere aan KwaZulu-Natal se stede en dorpe te bespoedig. Belangrike grondstowwe en komponente kry voorrang. Die terugvoering van vervaardigers en kleinhandelaars is sover baie optimisties.

“Die regering doen ook tans ’n waardebepaling van die omvang van die verlies aan produksie- en verspreidingspersele en wat gedoen kan word om alternatiewe plaaslike voorraad van rou materiale en ander kritiese goedere te bekom. Die prioriteit is om die beveiliging van voorsiening aan KwaZulu-Natal, ander Suid-Afrikaanse provinsies en buurlande verder te versterk.”

PADVRAGVENNOOTSKAP OP DIE BEEN GEBRING

Intussen is die Gauteng Freight Forum, ’n padvragvennootskap tussen die Gautengse departement van paaie en vervoer asook rolspelers in die voorsieningsketting, vervoer- en kleinhandelsektor op die been gebring om doeltreffenheid en die volgehou vloei van goedere dwarsdeur die land en kontinent te verbeter.

Mnr. Jacob Mamabolo, Gautengse LUR vir paaie en vervoer, sê die vennootskap is belangrik aangesien dié sektore nou nie vir die regering se hulp hoef te wag nie. “Dit is waarom dit belangrik is dat ons maandeliks vergader en vervoerrisiko’s analiseer sodat hulle vinnig uit die weg geruim kan word. Hiervoor is inligting noodsaaklik.”

Mamabolo sê die vennootskap wil Gauteng, waardeur 60% van die land se padvragte beweeg, herposisioneer as die binneland se middelpunt vir padvragte en logistiek. “Ons moet sy mededingende voorsprong laat realiseer.”

Die vennootskap het gister vir die eerste keer vergader en werk tans aan ’n konsep om handelsroetes te beveilig.Dr. Juanita Maree, voorsitter van die Suid-Afrikaanse vragversendersvereniging, verwelkom die stigting van die vennootskap. “Ons is hier. Ons is toegewyd. Ons sal al die pad saamwerk.”

Mnr. Gavin Kelly, hoofbeampte van die padvragvereniging (RFA), sê hulle sien daarna uit om deur die Gauteng Freight Forum se samewerking te help om die wiele van die Suid-Afrikaanse ekonomie aan die rol te hou.