Die landbousakekamer Agbiz en die Nywerheidsontwikkelingskorporasie se sakevertroue-indeks was in die eerste kwartaal 4 punte hoër as in die laaste kwartaal van verlede jaar.

Op 46 was dit egter steeds onder die neutrale vlak van 50, wat daarop dui dat landbou-ondernemings steeds pessimisties is oor saketoestande in Suid-Afrika, sê mnr. Wandile Sihlobo, hoofekonoom van Agbiz.

“Die tekens van optimisme was hoofsaaklik in die subsektore vir tuinbou, lewende hawe en landbouchemiese ondernemings, terwyl ander subsektore moedeloosheid getoon het weens die verwagtinge van ’n swak oes ná wisselvallige reënval vroeër vanjaar.”

Die meeste respondente wat aan die kwartaallikse opname deelgeneem het, se bykomende kommentaar het, soos vorige kere, oor grondhervorming gegaan.

Sihlobo sê hoewel die landbou beleggings in roerende bates soos landboutoerusting gehad het, is die uitkoms van die grondhervormingsprosesse belangrik om vaste beleggings in die sektor te lok.

Vertroue in omset

Landbousakelui se vertroue rakende omset het wel goed gestyg en met 13 punte tot 61 verbeter. Sihlobo sê dit was danksy groter optimisme in die subsektore tuinbou, lewende hawe, landbouchemie en wyn.

Verwant hieraan was daar ook ’n styging van 19 punte, tot 56, in die subsektor waar vertroue in uitvoervolume gemeet word. Die sitrus- en wynbedryf verwag goeie uitvoergeleenthede danksy goeie oeste.

In die lewendehawe-subsektor het vertroue ondanks die uitbreking van bek-en-klouseer gestyg. Sihlobo skryf dit daaraan toe dat die departement van landbou, bosbou en visserye in gesprek is met uitvoerbestemmings in Afrika en die Midde-Ooste om die tydelike verbod op Suid-Afrikaanse beesvleis op te hef.

In teenstelling met subsektore waar vertroue verbeter het, het vertroue in algemene landboutoestande met 8 punte tot net 32 gedaal. “Dit is weens die ondergemiddelde reënval begin vanjaar, veral in die sentrale en westelike dele van Suid-Afrika,” sê Sihlobo.

Sakelui se vertroue in ekonomiese toestande het met 3 punte gestyg, maar staan nou op slegs 21, wat ver benede die gemiddelde op lang termyn is.

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.