Die Britse bestuurskonsultant, Forseti Consult, en die Kaapse regsfirma, Glenn Rooseboom, steun vir hul projek op ’n bestaande ooreenkoms tussen Finland en Suid-Afrika oor wedersydse beleggingsbeskerming. 

Dit kom daarop neer dat die boer ’n bestuursmaatskappy in Finland skep, asook ’n Finse bedryfsmaatskappy in Suid-Afrika wat die plaas op lang termyn bruikhuur en dan bestuur. Die boer is die eienaar van albei maatskappye en al die aandele word in Finland gehou. Die boerdery verwissel nie van hande nie, maar gaan normaalweg voort.

Me Tamsyn Byrne, ’n verteenwoordiger van Forseti in Suid-Afrika, sê daar is op Finland besluit omdat dié land die mees bindende ooreenkoms met Suid-Afrika het om Finse belange te beskerm. Die ooreenkoms van 20 jaar loop in September ten einde, maar bied nog verdere beskerming aan Finse belange wat teen daardie tyd gevestig is.

As die boerdery enige skade ly weens byvoorbeeld onteiening, kan die bestuursmaatskappy in Finland ’n eis teen die Suid-Afrikaanse Regering instel. As dit nie slaag nie, kan die saak op internasionale arbitrasie geneem word en ’n besluit daar is afdwingbaar op enige land wat aan die Wêreldbank behoort.

“Benewens die beskerming van eiendomsreg bied die betrokkenheid in Finland aan die Suid-Afrikaanse boer ook ander voordele. Dit vergemaklik toegang tot markte in Europa en gunstiger finansiering kan in die buiteland bekom word,” sê me. Eileen Nash, ook ’n plaaslike verteenwoordiger van Forseti.

Wat koste betref, sê sy die prosesse in Suid-Afrika kos sowat R50 000 en in Finland sowat R120 000 na gelang van die wisselkoers.

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe. Volg ons op Whatsapp om daaglikse landbounuus op jou selfoon te ontvang.