Die organisasie sê in ’n verklaring die besluit het hom nie verras nie, “aangesien dit te wagte was in die lig van die twyfelagtige prosesse en die emosionele opswepery”.

“Dit kos meer as R6 000 per hektaar om te ploeg en te plant, en boere sal twee keer dink om daardie groot koste aan te gaan as daar ’n groot moontlikheid is dat die grond gevat kan word en hulle alles kan verloor,” sê mnr. Bennie van Zyl, hoofbestuurder van die TLU SA. “Die President van die land moet nou sê waarom boere wel behoort voort te gaan om te plant.”

Die organisasie gaan intussen voort met sy internasionale veldtog oor onteiening, en sal die Verenigde Nasies se Menseregtekommissie aan die einde van die maand inlig “dat die Suid-Afrikaanse regering sy Grondwet wil wysig om grond van sy onderdane te steel, terwyl die Suid-Afrikaanse boere hul grond wettig bekom het”.

Teleurstelling en kommer

Intussen het die landbousakekamer Agbiz sy kommer en teleurstelling oor die komitee se besluit uitgespreek. “Die aanbeveling in beginsel was egter nie verbasend nie, gegewe die sentimente wat gedurende die provinsiale openbare verhore uitgespreek is, en gegewe die aankondiging van die President van die ANC op 31 Julie 2018. Dit sou egter ’n positiewe en konstruktiewe stap gewees het as die voorwaardes waaronder grondonteiening sonder vergoeding kan plaasvind, ook tydens die komitee se aanbevelings aangedui is,” sê dr. John Purchase, hoof- uitvoerende beampte van Agbiz. 

Purchase sê die grondwetlike wysigingswetsontwerp of parlementêre mosie wat nou opgestel moet word, en die besonderhede wat dit sal aandui rakende die bepalings waarvolgens onteiening sonder vergoeding kan plaasvind, is van kritieke belang. Die organisasie sal deelneem aan die proses en mondelinge voorleggings aan die Parlement doen.

Intussen sal beleidsonsekerheid egter steeds ’n negatiewe imvloed op die groter landboubedryf en landbousakesektore hê. “Konstruktiewe betrokkenheid by die Regering en die Parlement bly die enigste geloofwaardige manier om die grondvraagstuk in Suid-Afrika op te los,” sê Purchase.

Verwelkom

Intussen het Afasa, die African Farmers’ Association of South Africa, die komitee se aanbeveling verwelkom. “Afasa het standvastig gebly in sy ondersteuning van  die skuif, en beklemtoon dat dit binne die beperkings van die Grondwet gedoen moet word,” lui ’n verklaring van die organisasie. 

Mnr. Neo Masithela, voorsitter van Afasa, sê die organisasie is van mening dat die komitee se besluit gegrond is op die siening van die meerderheid van Suid-Afrikaners dat dringende en spoedige grondhervorming nodig is. “Die organisasie glo hierdie proses sal help om die grondhervormingsproses te bespoedig, ’n meer inklusiewe en welvarende ekonomie sal help bou, en landbouproduksie sowel as voedselsekuriteit vir alle Suid-Afrikaners sal verbeter.”

Masithela sê Afasa erken dat die proses rondom ’n verandering aan wetgewing verskeie fases sal ondergaan. “Ons bly vol vertroue dat dié prosesse net formaliteite sal wees. Wanneer dit geslaag het, sal dit baie duidelik wees en kan ons eens en vir altyd die grondkwessie hanteer, terwyl ons landbouproduksie asook voedselveiligheid vir onsself en toekomstige geslagte verbeter.”

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.