Mnr. Theo Boshoff, bestuurder van regsintelligensie by Agbiz, het by ’n inligtingsdag van dié landbousakekamer gesê die huidige waarskynlikste scenario is dat daar ’n klein wysiging aan die Grondwet gemaak kan word, met besonderhede in ’n nuwe onteieningswetsontwerp.

Hy het gesê hy spekuleer slegs hieroor en dat daar steeds baie onsekerhede is, maar daar sal waarskynlik geen veranderings voor die verkiesing plaasvind nie.

Mnr. Theo Boshoff. Foto: Carien Kruger

“Dit is egter moontlik dat ’n klein wysiging aan die Grondwet groter magte aan die wetgewer kan gee om, deur middel van wetgewing, die berekening van vergoeding in verskeie omstandighede te bepaal.”

As wesentlike wysigings aan die onteieningswetsontwerp gemaak word, sal dit weer deur ’n lang proses van raadpleging moet gaan, wat twee jaar kan duur.

Boshoff sê in so ’n nuwe wetsontwerp kan daar moontlik bepaal word dat die staat geen vergoeding gaan betaal nie wanneer hy die volgende onteien: Onbenutte eiendom, verlate geboue, grond wat vir spekulering gekoop is, eiendom met afwesige eienaars, en grond wat beoogde perke op grondbesit oorskry.

Gedeeltelike vergoeding kan moontlik ook voorgeskryf word vir vaste verbeterings, maar nie vir grond, geboue, kanale en infrastruktuur en vir eiendom met ’n verband daarop nie.

“Onteiening sonder vergoeding bly ’n groot risiko, maar die kanse is goed dat die finale produk baie kwalifiserings sal bevat,” het Boshoff gesê.

“Die politieke landskap ná die verkiesing is egter ’n groot veranderlike.”

Omstandighede kan byvoorbeeld baie verander, sou die ANC ’n koalisie met die EFF of DA moet vorm.

Aansporings

Agbiz se siening oor grondhervorming is dat dit verdeel moet word in transformasie in die kommersiële sektor, hervorming om ’n maatskaplike doelwit te bereik, en hervorming van stedelike grond.

“As die staat aan die private sektor aansporings kan gee om die kommersiële sektor te transformeer, sal dit hom in staat stel om sy volle aandag aan die ander twee dele te gee.”

Boshoff het gesê gevestigde landbou-ondernemings wat intussen pro-aktief deur vennootskapmodelle en transaksies vir swart ekonomiese bemagtiging (SEB) transformeer, kan moontlik hul risiko beperk en bestuur.

“Transformasie is onvermydelik, maar indien ondernemings proaktief optree is daar sekere voordele, teenoor ’n situasie waarby ’n mens jouself moontlik aan onteiening uitlewer.”

Ondernemings kan self die voorwaardes vir die transaksies onderhandel, hulle kan hul eie vennote kies en kan vir hulself ’n mededingende voordeel skep. Gemengde “sagte” (goedkoper) finansiering kan ook binnekort ’n werklikheid word.

’n Maatskappy se transformasiestatus gaan waarskynlik ’n al belangriker vereiste word by die toekenning van natuurlike hulpbronne soos water, of invoer- en uitvoerpermitte.

Boshoff sê hoewel daar geen waarborg is dat ’n bemagtigingstransaksie vir ’n maatskappy enige vrystelling van vereistes sal meebring nie, bied dit ’n moontlike manier om risiko te bestuur.

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.