Volgens die landbousakekamer Agbiz en die nywerheidsontwikkelingskorporasie (IDC) se sakevertroue-indeks het vertroue in die derde kwartaal van vanjaar tot onder die neutrale 50 punt-merk gedaal.

Die opname is in Augustus gedoen, ’n groot deel daarvan nog voordat dit bekend geword het dat die land in ’n tegniese resessie is.

Mnr. Wandile Sihlobo, hoof van landbousakenavorsing by Agbiz, sê daar is laer vertroue rakende omset, werkskepping, kapitaalbelegging, volume van uitvoer, en ekonomiese groei.

In die verlede sou ’n daling in vertroue gewoonlik met ongunstige weerstoestande verband gehou het. Dié keer is die wortels van die pessimisme egter onder meer dralende beleidsonsekerheid en swak ekonomiese groei.

“Die gebrek aan duidelikheid oor die beleidsvoorstel vir grondhervorming, in besonder onteiening sonder vergoeding, bly ’n sleutelrisiko wat belegging en vooruitsigte vir langtermyngroei potensieel kan ondergrawe.

“Daar is egter nog nie bewyse wat op onttrekking van belegging dui nie,” sê Sihlobo in ’n verklaring.

Kapitaalbelegging

Respondente se vertroue rakende kapitaalbelegging het met 14 punte tot 50 gedaal. “Dit is die laagste punt sedert die vierde kwartaal van verlede jaar, toe landbousake-ondernemings moedeloos was ná die ANC-besluit om ’n beleidsvoorstel ter tafel te lê wat onteiening sonder vergoeding moontlik kon maak.

“Voortgesette onsekerheid oor dié beleidsvoorstel is weer deur respondente as die sleutelfaktor agter die verswakking in vertroue in kapitaalbelegging genoem.”

Sakelui se sienings oor ekonomiese omstandighede het vanaf 50 punte tot 15 punte gedaal.

Dit is in groot teenstelling met die sewejaarhoogtepunt van 68 punte in die eerste kwartaal van vanjaar, op die hoogtepunt van sogenaamde Ramaforie. Die ekonomie het egter daarna swak gepresteer.

Vertroue in uitvoervolume het tot 35 indekspunte geval, die laagste sedert 2013. Sihlobo skryf dit gedeeltelik toe aan laer produksie van tuinbouprodukte, asook ’n daling in vleisuitvoer, veral volstruisvleis.

Vertroue rakende omset het in die tweede kwartaal met 14 punte tot 64 gedaal, en nou tot 62 punte. Sihlobo skryf dit hoofsaaklik toe aan kleiner landbou-uitsette vergeleke met ’n jaar gelede.

Die daling in vertroue oor werkskepping strook met die kwartaallikse daling van 0,4% in die indiensnemingsyfer.

Die subindeks rakende finansieringskoste het met 23 indekspunte tot 41 gedaal, wat strook met die verwagting dat die Reserwebank die repokoers op kort termyn onveranderd sal hou.

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.