Daar was altesaam 209 stemme ten gunste van en 91 stemme teen die aanvaarding van die verslag. Die Nasionale Raad van Provinsies sal môre die verslag in die Parlement debatteer en daaroor stem.

Die verslag beveel aan dat artikel 25 van die Grondwet so gewysig word dat dit duidelik aandui dat onteiening sonder vergoeding toelaatbaar is vir grondhervormingsdoeleiendes.

Die DA, ACDP, COPE en die VF Plus het tydens die debat ’n laaste poging aangewend om die ANC te laat insien dat sekere prosedures met die samestelling van die verslag nie gevolg is nie.

Die ANC het egter sterk gestaan en by monde van mnr. Stan Maila, medevoorsitter van die grondwetlike hersieningskomitee, gesê dat die Parlement nie die komitee ’n mandaat gegee het om ’n referendum te hou nie, en dat dit daarom sinneloos is dat enigeen wil debatteer oor hoeveel kommentare vir of teen die wysiging is. Hy het die vergadering aangemoedig om die verslag te aanvaar want “die mense wil hulle grond hê, gee hulle wat hulle wil hê.”

Onbetwisbaar

Die ANC is van mening dat onduidelikheid rakende die toelaatbaarheid van onteiening sonder vergoeding bygedra het tot die stadige pas van grondhervorming

Mnr. Vincent Smith, ANC-LP, het presies uitgespel wat die ANC wil hê moet gebeur. Die ANC stel voor dat artikel 25 van die Grondwet gewysig word om duidelik en onbetwisbaar aan te dui dat onteiening sonder vergoeding een van die meganismes is van die grondhervormingsprogram. “Die ANC vra vir ’n gemengde eienaarskapmodel wat individuele eienaarskap, staatseienaarskap en kommunale eienaarskap insluit.”

Dit is bekend dat die EFF verkies dat grond eerder onder staatsbeheer geplaas moet word. Mnr. Julius Malema, leier van die EFF, het dit ná die debat aan die media duidelik gemaak dat hy die gemengde eienaarskapmodel van die ANC teenstaan.

Beskerm landbouproduksie

Smith het gesê die ANC is oortuig dat sonder herverdeling van grond, ’n verenigde Suid-Afrikaanse gemeenskap nooit gestalte sal kry en ongelykhede oorkom sal word nie.

“Ons argumenteer dat indien ons nie aan die voorheen gemarginaliseerdes ’n manier gee om die grond produktief te bewerk én die ruimtelike apartheidsbeplanning in ons dorpe en stede verander nie, ons nie die vlaag armoede en werkloosheid in ons gemeenskappe sal oorwin nie.

“Die ANC is oortuig dat as ons die ekonomiese waarde van die grond verhoog, ons nie net landbougrond moet herverdeel nie, maar ook grond naby werksplekke in die stedelike sentra moet aanbied vir behuisingsdoeleindes.”

Hy het bygevoeg dat diegene wat in informele nedersettings woon munisipale dienste en sekerheid van verblyfreg moet kry.

Smith het benadruk dat die grondhervormingsprojek nie ekonomiese beleggings moet ondermyn nie. Dit moet ook landbouproduksie verbeter en nie voedselsekerheid versteur nie. Hy het benadruk dat die markgedrewe beginsel van ’n gewillige koper en gewillige verkoper in die verlede gebruik is om die grondhervormingsproses te vertraag. 

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.