Die Vryemarkstiging sê ’n verandering aan die Grondwet kan mense terugplaas in dieselfde situasie as gedurende die apartheidsjare waar op grond beslag gelê is teen geen of onvoldoende vergoeding.

Luidens ’n verklaring sê die stigting die Grondwet waarborg op die oomblik eiendomsregte vir almal ongeag ras. As artikel 25 van die Grondwet verander word, sal dit hierdie beskerming ondermyn en die kwesbaarste deel van die bevolking sal die grootste slagoffers wees. Geen vergoeding sal arm swart mense die kwaaiste tref, want hulle sal uitgelewer wees aan munisipale amptenare wat sal maak soos hulle wil.

As artikel 25 van die Grondwet verander word om onteiening sonder vergoeding moontlik te maak, sal die regering in wese, selfs met die erkenning van eiendomsregte, in sy grondwetlike plig faal om hierdie regte te beskerm. “Erkenning sonder beskerming beteken niks,” sê mnre. Leon Louw en Temba Nolutshungu, direkteure van die Vryemarkstiging, wat in die 1990’s help seker maak het dat die eiendomsklousule in die Grondwet ingevoeg is.

Hulle sê die waarborg om eiendomsregte te beskerm is fundamenteel deel van ’n demokratiese, vrye en vooruitstrewende gemeenskap. As die waarborg vir vergoeding wegval, val hierdie elemente ook weg en dit is teenstrydig met die beginsels van menseregte en die Grondwet self.

Regte behoort aan die bevolking, nie die regering nie. Die Handves van Menseregte “verskaf” nie regte nie. Dit erken bloot bestaande regte en beskerm dit. As die inherente reg om vergoeding te ontvang vir die onteiening van wettige eiendom wegval, bedreig dit alle ander menseregte soos die reg op waardigheid, vryheid, regverdigheid en verantwoordbaarheid. 

Verwarring

Louw en Nolutshungu sê daar is verwarring oor die twee wetsontwerpe oor grondhervorming. Die onteieningswetsontwerp waarop tot 19 Februarie kommentaar gelewer kon word, is nie van dieselfde aard as die grondwetlike wysigingswetsontwerp waarop van 31 Maart af kommentaar gelewer kan word nie. Hulle verskil in belangrike aspekte, hoewel albei voorsiening maak vir onteiening sonder vergoeding.

Die onteieningswetsontwerp is gemik op verandering aan die bestaande onteieningswetgewing wat van 1975 af kom. Dit is gewone wetgewing wat jare al in werking is en vereis nie ’n fundamentele verandering aan die Grondwet nie. Om dit in die toekoms te verander vereis net ’n meerderheid van 50% + 1.

Dit sal binne die konteks van die huidige Grondwet in werking gestel word, wat die noodsaaklikheid van regverdige en billike vergoeding erken hoewel daar vir nul-vergoeding in sekere omstandighede voorsiening gemaak word.

Die grondwetlike wysigingswetsontwerp is deel van grondwetlike reg en ’n verandering hieraan is ongekend in Suid-Afrika, omdat dit die eerste verandering aan die Handves van Menseregte sal wees. Hierdie handves is vasgelê in afdeling 2 van die Grondwet, wat ook artikel 25 bevat.

Die stigting sê daar word nog gedebatteer oor die meerderheid wat nodig is om veranderinge aan die Handves van Menseregte aan te bring, maar die minimum sal waarskynlik 66% wees. ’n Verandering sal ’n gevaarlike presedent skep vir toekomstige regerings om ook ander regte soos vryheid van spraak weg te neem.

Hoewel die onteieningswetsontwerp vir die stigting probleme inhou, verteenwoordig dit nie ’n soortgelyke onomkeerbare bedreiging vir die land se toekoms as ’n wysiging aan die Grondwet nie. ’n Verandering aan afdeling 25 kan baie van dít waarvoor Suid-Afrikaners geveg en gesterf het, ongedaan maak, waarsku die stigting.

Louw sê deur middel van die stigting se Khaya Lam-hervormingsprojek word geveg vir eiendomsregte vir miljoene Suid-Afrikaners wat vandag steeds nie die voordele van titelaktes geniet nie.

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.