Dit volg ná die Nasionale Vergadering se aanvaarding van ’n gewysigde mosie van die EFF oor onteiening sonder vergoeding op Dinsdag 27 Februarie. Die mosie baan die weg vir die Parlement se grondwetlike hersieningskomitee om artikel 25 van die Grondwet te hersien sodat dit moontlik sal wees om grond sonder vergoeding in openbare belang te onteien.

Purchase sê die oop en mededingende voedselverwerkingstelsel in Suid-Afrika, en by implikasie die uitstekende nasionale voedselsekerheid wat die land ervaar, is fundamenteel gegrond op versekerde eiendomsreg. Eiendomsreg word gebruik om finansiering vir belegging en produksie te bekom. Die uitwissing van hierdie reg skep onsekerheid, wat beleggers kan wegstoot van die voedselverwerkingsektor én die land as geheel.

“Kospryse sal beduidend toeneem en die bekostigbaarheid van kos, ’n sleutelkomponent van voedselsekerheid, sal in gedrang kom.”

Verlede jaar se Indeks vir Internasionale Eiendomsregte toon dat ’n sterk stelsel van eiendomsreg help met die bevordering van ekonomiese groei, menslike vermoëns en die skep van maatskaplike kapitaal. Eiendomsreg is ’n sleutelbestandeel vir die vooruitgang van die samelewing. Die versuim om eiendomsreg aan die meerderheid landsburgers oor te dra, is wat ongelykheid in die land vergroot het, en nie eiendomsreg as ’n beginsel nie.

Moreel en tegnies onregverdigbaar

Prof. Cyril Mbatha van Unisa se sakeskool sê die staat kan nie van sy verantwoordelikhede wegloop nie, selfs al het hy nie tans die geld om vergoeding te betaal aan diegene wat hul grond onregverdig verloor het nie.

Hy sê as iemand se private of gemeenskaplike eiendom gesteel word, moet dit sonder twyfel aan die regmatige eienaar terugbesorg word sonder dat vergoeding aan die “dief” betaal word of die een wat beweer dat dit sy eiendom is.

Die probleem ontstaan as die staat die diefstal gewettig het deur self daaraan deel te neem. Die sekondêre probleme kom ná die wettiging van die diefstalproses deur die staat, met verdere transaksies wat ook deur die staat gewettig word. Die titelakterekords lieg nie oor die staat se skuld of verantwoordelikheid in die prosesse wat die huidige patrone van grondeienaarskap in Suid-Afrika moontlik gemaak het nie.

Mbatha redeneer daarom dat die staat moreel verplig is om die grondeienaars te vergoed, veral eienaars wat hul grond wettig gekoop het van diegene wat dit in die eerste plek “gesteel” het. Dit sluit in baie gevalle die staat in.

Hy stel voor dat ’n geskikte optrede – moreel en wetlik – kan wees dat eienaars ingevolge ‘n hofproses van grond verwyder word as hulle weier om gewillig die grond aan die staat te verkoop teen ’n markverwante prys wat deur ’n “bevoegde grondwaardeerder” bepaal is.