Dit was deel die boodskap van mnr. Andy Pienaar, wat oor die “hunkeringe en aspirasies” van die gemeenskap van die Komaggas gepraat het tydens die openbare verhoor oor onteiening sonder vergoeding wat op Concordia in die Noord-Kaap gehou is.

Pienaar het Engels en Afrikaans as vreemde tale beskryf en ’n paar Namawoorde gesê. “Daar is ’n optimisme en oortuiging dat die Regering ’n poging aanwend om ons voorvaderlike grondregte te herstel.”

Hy het gekla dat hulle aan die proses moet deelneem sonder brondokumente om hulle te help. “Ons is daarom nie behoorlik voorberei nie. Dit laat ’n mens wonder of die arms van die Regering verder as die streekkantoor op Springbok strek en of die proses net vir ouditdoeleindes is.

“Amptenare kom in ons streek en voer gesprekke in ’n taal wat ons nie verstaan nie, laat nie genoeg ruimte vir vrae nie, en is altyd haastig om die gesprek te verlaat.”

Hy het geëis dat die hele grondgebied onvoorwaardelik en met volle eienaarskap aan hulle teruggegee word. “Ons wil met die Regering saamstem dit behoort nie ’n lukrake wegneem van plase te wees nie, maar dat die grond regverderig verdeel word en ekonomies benut moet word.

“Ons vra dus nie dat alle kommersiële boere sommer goedsmoeds uit ons midde verwyder moet word nie. Ons kyk ook na ons eie behoefte vir begeleiding, maar in alle regverdigheid is dit nie reg dat een alles het nie en die ander het niks nie.”

Pienaar het gesê hulle is bekommerd dat die Regering deur die proses alle grond in trust sal hou of dat nuwe wetgewing hulle wéér van hul grond sal vervreem.

Grondwet nie die probleem nie 

Dit is belangrik dat die Grondwet in werking gestel word, het me. Linda van Wyk, ’n Noord-Kaapse gemeenskapsleier, gesê. “Ek glo dat daar nié aan ons Grondwet verander moet word nie. Die Grondwet beskerm elke persoon in die land: Dit maak nie saak of jy in die meerderheid of minderheid is of alleen staan nie.”

Sy het mense aangemoedig om die Grondwet te lees om politici en staatsamptenare tot verantwoording te roep. Sy sê artikel 25 maak grondhervorming moontlik. “Die mislukking van grondhervorming lê nie in die Grondwet nie, maar in die Regering se onvermoë om dit uit te voer.”

Voor haar het ’n spreker gevra as die grond sonder vergoeding onteien word, aan wie die grond gegee sal word.

Mnr. Ernst Roets van Afriforum was die derde persoon om te getuig en is luid toegejuig. Mnr. Floyd Shivambu, EFF-parlementslid en lid van die gesamentlik grondwetlike hersieningskomitee, het gesê die komitee het Concordia toe gekom om na die mense van Namakwaland te luister, en dat groepe, soos Afriforum, reeds ander geleenthede benut het. Die voorsitter het gesê Roets se getuienis sal aangeteken word.

Die byeenkoms het sonder voorvalle en min of meer binne die beplande tyd van 11:00 tot 16:00 plaasgevind. Die verhore vind nog tot op 3 Augustus in verskillende dele van Suid-Afrika plaas.