Die Nasionale Raad van Provinsies het, soos die Nasonale Vergadering vroeër, die verslag van die grondwetlike hersieningskomitee aanvaar wat voorstel dat artikel 25 van die Grondwet gewysig moet word.

Slegs die Wes-Kaap het teen die wysiging gestem in die Nasionale Raad van Provinsies.

Die aanvaarding van die verslag is met sang begroet.

Me. Cathy Labuschagne, die DA se leier in die Nasionale Raad van Provinsies, het gesê die DA ondersteun nie enige wysiging van artikel 25, die eiedomsregsklousule van die Grondwet, nie.

“Dit gaan egter nie net oor die wysiging van die Grondwet nie. Die Grondwet, soos al herhaaldelik genoem is, is reeds 17 keer gewysig. ’n Mens sou dus kon vra waarom die ontsteltenis oor net nog ’n wysiging. Die verskil is dat daardie 17 wysigings tegnies van aard was en nie die wese van die Grondwet gewysing nie.

“In hierdie geval is dit egter nie net ’n wysiging van die Grondwet nie, maar spesifiek ’n wysiging van hoofstuk 2, die Handves van Regte.”

Die Handves van Regte is die hoeksteen van die demokrasie. ’n Handves gee of skep nie regte nie – dit beskerm bestaande regte wat vir alle mense beskore is.

Sy het gesê dit behoort voor die hand liggend te wees dat ’n wysiging van die Handves van Regte beteken ’n verandering van reeds bestaande regte waaroor almal beskik.

“Die Handves van Regte staan as buffer tussen alle burgers van die land en enige arbitrêre handeling van die staat.

“Artikel 25 in die handves takel juis een van die kernelemente van enige demokrasie en ekonomie, naamlik die reg tot eiendom. Geen ekonomie kan groei en suksesvol wees as eiendomsreg nie beskerm word en daar nie teenvoeters teen enige arbitêre onteiening deur die staat is nie.”

Proses

Die aanvaarding van die komiteeverslag deur die Nasionale Vergadering (NV) en die Nasionale Raad van Provinsies beteken dat ‘n wetsontwerp voorgestel kan word volgens die prosedures in artikel 74 van die Grondwet en die reëls van die Parlement.

Die grondwetlike prosedure en parlementêre reëls vir die indien van so ’n wetsontwerp verseker openbare deelname en deursigtigheid.

Besonderhede van die wetsontwerp sal in die Staatskoerant aangekondig moet word ten minste 30 dae voor dit ingedien kan word. Hierdie stap verseker dat geneg tyd gegee word vir openbare kommentaar. Die wetsontwerp sal ook by ál die provinsiale wetgewers ingedien moet word.

Nadat dit ingedien is, moet die lid van die uitvoerende gesag, lid van die Nasionale Vergadering of komitee van die Nasionale Vergadering wat die wetsontwerp ingedien het, enige geskrewe kommentare daarop aan die speaker van die Nasionale Vergadering en die voorsitter van die Nasionale Raad van Provinsies stuur.

Mnr. Moloto Mothapo, woordvoerder van die Parlement, sê hierdie geskrewe kommentare word dan in die Parlement ter tafel gelê. Die wetsontwerp sal na ’n komitee van die Nasionale Vergadering verwys word, wat dit deur die openbare deelnameproses moet neem.

Die Nasionale Vergadering mag 30 dae nadat die wetsontwerp ingedien is, dit oorweeg en daaroor stem. Vir ‘n grondwetwysiging is ‘n tweederde meerderheid nodig. In die Nasionale Raad van Provinsies moet minstens ses provinsies ten gunste van die wetsontwerp stem om dit te kan aanvaar.

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.