In gewone Afrikaans beteken dit die wettiging van diefstal as mnr. Cyril Ramaphosa, nuutverkose ANC-leier, sê dat grond in private besit “gevat” gaan word onder die dekmantel van “wetlike onteiening” (boonop sonder vergoeding), sê die TLU SA.

Mnr. Louis Meintjes, voorsitter van TLU SA, sê in reaksie op Ramaphosa se uitlatings oor onteiening sonder vergoeding dit skep die potensiaal om opnuut revolusie te ontketen. “Die onteiening van private eiendom sonder vergoeding is diefstal.

Geen ideologie, gerugsteun deur oppervlakkige populistiese beloftes wat nie met ekonomiese beginsels tred hou nie, gaan vir ons heil sorg nie. As Ramaphosa regtig ’n onhanteerbare situasie wil skep, moet hy aktief meewerk om hongersnood te bevorder.”

Hy wys daarop dat Ramaphosa in dieselfde asem sê die ekonomie moet nie geskaad word nie en dat voedselsekerheid nie nadelig geraak moet word nie.

“Gegewe die erkenning deur die Regering self dat die produktiewe benutting van landbougrond wat ingevolge die restitusieproses reeds aan begunstigdes oorgedra is, asook die kortstondige beskikbaarstelling van miljarde rande se hulpverlening aan mense wat nie kan of wil boer nie, klaaglik misluk het, beloof hierdie nuwe belofte niks goed vir Suid-Afrika nie.

Staar werklike uitdagings in die oë

“Waar in die wêreld het onteiening sonder vergoeding en die voortgesette verval van landbougrond gelei tot buitelandse vertroue, ekonomiese groei en hoër voedselproduksie?”

Meintjes beklemtoon die tyd het aangebreek dat Suid-Afrika die werklike uitdagings wat die land in die oë staar, identifiseer vir wat dit is.

“Nie alleen word wetsgehoorsame burgers in hul eie land – ten spyte van die ‘nie-rassige’ hoeksteen van ’n sogenaamde modelgrondwet – onderwerp aan ’n verskeidenheid wette wat blatant pro-swart en anti-Afrikaans is, maar ’n snelgroeiende bevolking stel toenemende eise aan ’n baie klein belastingbasis.

“Daardie proses spoed voort, terwyl Suid-Afrika se ‘rommelstatus’, toenemende landelike armoede, die verval van infrastruktuur, die verlaging van skool- en akademiese standaarde, swak lewering van basiese dienste, bandelose misdaad en ’n skreiende gebrek aan toekomsbeplanning aan die orde van die dag is.”