Mnr. Temba Nolutshungu, direkteur van die VMS, sê dit is ’n gevaarlike rigting wat ingeslaan word en almal in Suid-Afrika sal daaronder ly. “Niemand weet hoe lyk toekomstige regerings wat hierdie Grondwetwysiging vir hul eie doeleindes sal aanwend, of selfs staatsamptenare wat hierdie mandaat vir onteiening kan misbruik nie.”

Hy sê vanuit talle internasionale oorde word Suid-Afrika afgeraai om dit te doen. “Dit is ’n rampspoedige pad wat oorweeg word in ’n tyd waarin die ekonomie reeds inkrimp. Ons sal meer vernietigende gevolge sien as wat ons ooit verwag het.”

Hy sê die VMS sal die stryd voortsit teen ’n verandering aan die Grondwet, juis omdat dit rampoedig vir die land sal wees. “Onteiening sonder vergoeding moet nie toegepas word nie. As daar enige verandering moet wees, moet dit eerder wees om eiendomsregte te versterk.”

Nolutshungu sê daar is baie ander uitvoerbare en geloofwaardige alternatiewe, soos om staatsgrond wat in onbruik is, op ’n nie-rassige grondslag aan armes te gee. ’n Ander opsie is om maatskappye in staatsbesit (SOE’s) aan die private sektor oor te dra en daarmee saam aandele daarin aan armes oor te dra. Dit is iets wat uitstekend in die Tsjeggiese Republiek gewerk het.

“Die regering moet nie sakeondernemings bestuur nie. Die regering se taak is om ’n beleidsomgewing te skep wat dit makliker vir sakelui maak om ondernemings te skep en uit te bou. Sy taak is nie om betrokke te wees by besigheid nie, maar om struikelblokke vir sakelui uit die weg te ruim. As die regering se SOE’s misluk, raak dit hulle nie persoonlik nie, hulle ry steeds weg met sakke vol geld.” 

Oor SOE’s wys me Busi Mavuso, uitvoerende hoof van BLSA, daarop dat die staat reeds 743 SOE’s het wat almal disfunksioneel is. Sy hoop nie daar is verdere planne oor nog SOE’s soos ’n staatsbank en farmaseutiese maatskappy nie. “Dit sal net tot verdere rampspoed lei.” 

Onvermoë

Volgens haar gaan die kwessie van onteiening sonder vergoeding oor die regering wat agter sy eie onvermoë skuil. “Om stemme te werf, beloof die regering al 25 jaar lank grond en niks het werklik gebeur nie. In ’n poging om mense ’n aanvaarbare verskoning vir die gebrek aan optrede te gee, sê die regering die Grondwet is nie duidelik oor onteiening sonder vergoeding nie.

“Dit is nie waar nie en ons krap op ’n plek waar dit nie jeuk nie. Daar is net ’n eerlike gesprek nodig oor wat gedoen moet word en hoekom dit nog nie gedoen is nie. Dit sal vir ewig duur om die Grondwet op só ’n manier te verander dat dit alle betrokkenes tevrede stel, nie net plaaslik nie, maar ook internasionaal.”

Mnr. Martin van Staden, hoof van regsbeleid en navorsing by die VMS, sê as onteiening sonder vergoeding onvermydelik is, moet dit uit die politieke arena gehaal word en die howe moet oor gevalle beslis. “Die regering wil dit juis uit die howe se hande neem sodat die uitvoerende gesag daaroor kan besluit en die howe net ’n hersieningsrol speel. Dit durf nie gebeur nie. Die mag moet by die howe lê, sonder enige regeringsinmenging.”

Hy sê as die Grondwet wel moet verander, moet dit gedoen word om eiendomsregte te versterk. “Die grondbeginsel moet wees dat waar die regering ook by grondhervorming betrokke is, die regering self nooit die eienaar van grond word nie. Die eienaar moet altyd ’n gewone burger sonder politieke verbintenisse wees. As onteiening moet gebeur, moet dit geskied op grond van restitusie en nie nasionalisering nie.”

Me. Tebele Luthuli, direkteur van beleid en wetgewing by die BLSA, wsy daarop die regering het deurgaans gesê beleggings, die ekonomie, landbou en voedselsekerheid moet nie in die proses skade ly nie. Om dit reg te kry, moet die regering die sakesektor betrek om ook te sê hoe dit gedoen kan word sonder om skade aan te rig. “Die openbare deelname moet deeglik en deursigtig wees, want ons almal wil suksesvolle grondhervorming sonder skade aan die ekonomie hê. Dit raak nou selfs nog belangriker in ’n post-Covid-19-tydperk.”