Só het me. Thandeka Mbabama, die DA se skaduminister vir landelike ontwikkeling en grondhervorming, tydens die debat oor die staatsrede in die Nasionale Vergadering gesê.

Volgens Mbabama was Ramaphosa se enigste relevante mededeling dat stukke staatsgrond vir herverdeling geïdentifiseer is.

Die tekort aan duidelikheid, die afwesigheid van bepalende planne en die rigting in die ANC-regering rondom die onteiening van grond sonder vergoeding is ’n bewys dat dit as ’n verkiesingsfoefie gebruik word, het sy gesê.

Sy het prof. Ben Cousins van die instituut vir armoede-, grond- en landelike studies (Plaas) aangehaal wat sê dat die debat oor onteiening sonder vergoeding ’n afleiding van die hoofkwessie van grondhervorming is. Die ware vraag is, aan wie wil ons die grond gee, vir watter doel en hoe gaan hulle die grond behou, met watter eiendomsregte? Hoe gaan ons hulle ondersteun, hoe verseker ons die regte van 60% van Suid-Afrikaners wat grond en huise buite die formele stelsel het?

“Hy slaan die spyker op die kop aangesien die meeste Suid-Afrikaners reeds ingevolge gebruiks-, kommunale en tradisionele reg grond in landelike gebiede besit.”

Sy sê die probleme is om ’n formele rekordstelsel vir hierdie soort grond te formuleer wat wetlike erkenning en ondersteuning aan bestaande prosesse sal gee.

“Om die Grondwet te wysig sal geen voordelige impak op hierdie landelike gebiede hê nie.”

Sy het ook uitgewys dat die verslag van die spesiale ondersoekeenheid rakende korrupsie ten opsigte van grondhervorming al bykans ’n jaar stof vergader op die President se lessenaar.

“Die President ontken dat hierdie beleid ’n nadelige impak op beleggings sal hê. Dit volg ten spyte van konkrete bewyse van lande soos Venezuela en Zimbabwe wat al hierdie pad geloop het,” het sy benadruk.

Ramaphosa sal vanmiddag antwoord op die debat.

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.