Die verslag van die Parlement se grondwetlike hersieningskomitee wat aanbeveel dat onteiening sonder vergoeding duidelik in die Grondwet ingeskryf moet word, moet nog voor die Nasionale Vergadering dien. Verskeie organisasies het reeds regsmenings begin inwin oor die moontlikheid om die komitee in die hof aan te vat. AfriForum het intussen die eerste skoot gevuur deur om ’n hofinterdik aansoek te doen om te keer dat die Parlement die verslag van die komitee aanvaar. Die Parlement staan hierdie aansoek teen en voer in hofstukke aan dat dié poging van AfriForum ’n muilbandbevel is.

De Jager sê omdraaikans is egter min, want die ANC het reeds so ’n beleidsbesluit geneem en pres. Cyril Ramaphosa het dit ook al verskeie kere gesê. Boonop het die Parlement ’n proses van stapel gestuur om die moontlikheid daarvan te ondersoek.

“Die remme vir so ’n beleidsrigting skree reeds in die buiteland.”

Hy sê oral waar hy reis, in die buiteland of op die vasteland, het hy nog geen opgewondenheid oor so ’n beweegrigting ervaar nie.

“Almal weet dit is ’n doodloopstraat, en die Regering het homself in ’n hoek geverf. Ek dink hy sal self verlig wees as die verkiesing eers verby is en hy nie meer so onder druk is daaroor nie.”

Volgens De Jager is daar nog ’n moontlikheid dat die land onteiening sonder vergoeding kan vryspring. “Ek weet nie. As ons dit nie gaan vryspring nie, gaan ons nog meer betaal as waarvoor ons sover begroot het. Ons hoop maar daar is ’n sagte pad hier uit. So ’n pad is dalk die uitslag van die verkiesing.”

Teenvoorstel

Die Grondwet waarborg in elk geval nie markverwante vergoeding nie, maar verbied dit ook nie, sê De Jager.

Markverwante vergoeding bly die goedkoopste manier om die landbou te ontwikkel. As markwaarde ten minste seker is, gaan die banke met dieselfde sekerheid finansiering gee, soos hulle tot dusver gedoen het. Dit beteken kleiner boer het ook toegang tot finansiering.

“Die oomblik as jy dit laat errodeer dan stort landboufinansiering in duie. Dit is wat gebeur het met Zimbabwe. Die koeël is nie deur die kerk met die boere wat van die plaas af is nie, maar diegene wat oorgebly het, kon nie produksielenings kry nie.”

De Jager sê oudpres. Robert Mugabe se besluit was glad nie ‘n blinde een nie.

“Dit was ‘n minder blinde een as wat die huidige een van die ANC is.”

Mugabe het ’n verslag van die Wêreldbank op sy tafel gehad wat aangedui het dat twee derdes van die stapelvoedsel – mielies en koring – deur kleinboere verbou word en ‘n derde deur die kommersiële boere.

“Hy het gedink as alles sou verkeerd gaan, dan sit hy net een derde op die spel. Maar hy het nie daarmee rekening gehou as die kommersiële boere ineenstort, stort die hele landbouketting ook in duie nie. Daar was nie meer ’n vragmotor wat groot hoeveelhede saad en kunsmis na die platteland ry waarop die kleinboere se insette ook is nie. Daar was ook nie meer een wat hul mielies na die silo’s kon vervoer nie en niemand om die silo oop te sluit en ‘n sertifikaat uit te reik nie.”

Daardie waardeketting is ook nie verreken in die debat in Suid-Afrika nie. “Die doel van die debat is om meer gelykheid teweeg te bring en seker te maak dat ons ‘n klas van winsgewende swart boere geskep kry. Dit is iets wat ons dringend gedoen moet kry.”

Volgens De Jager is die maklikste manier om die voorstel in hoofstuk ses van die Nasionale Ontwikkelingsplan deur venootskapgebaseerde grondhervorming toe te pas. Dit werk op die oomblik op 106 plekke in die land.

Sy hoop is dat die Regering ná die verkiesing sal terugkeer na die beginsels van die ontwikkelingsplan, wat steeds ANC-beleid is.