Maree was ’n spreker op die Wagyu-beestelersgenootskap se jaarvergadering en het onder andere oor dié tema, asook die sogenoemde Ramaforie en Ramarealiteit gepraat.

Volgens Maree het die aanvanklike optimisme, oftewel Ramaforie, oor pres. Cyril Ramaphosa afgeneem. Hy meen dat Ramarealiteit heel anders lyk en dat die wisselkoers, brandstofpryse en ekonomiese data baie plofbaar gaan wees.

Maree verwag ’n lae ekonomiese groeikoers en baie politieke lawaai in die komende jare, maar hy is steeds optimisties oor verwagtinge vir landbou. Hy het konferensiegangers verseker dat FNB soos gewoonlik sake sal doen en sal aanhou om in ondernemings en boerderye te belê.

Duidelikheid nodig oor onteiening 

In ’n onderhoud met Landbou.com het Maree gesê dat banke ook duidelikheid van die staat wil hê rondom die gronddebat en onteiening sonder vergoeding. “Die Bankvereniging van Suid-Afrika handhaaf die siening dat grondhervorming moet plaasvind, maar op ’n verantwoordelike en ekonomies volhoubare grondslag.”

Volgens Maree wil banke, soos baie ander belanghebbendes, ook duidelikheid hê oor hoe die staat beoog om onteiening sonder vergoeding toe te pas. “Die huidige kredietwetgewing en regulasies bepaal dat as jy vir ’n lening teken, bly jy verantwoordelik vir daardie lening. In baie gevalle gaan boere in hul persoonlike hoedanigheid lenings aan, wat beteken boere sal steeds vir daardie skuld verantwoordelik wees.”

As onteiening sonder vergoeding plaasvind, sal daar ook toetssake hieroor in die land se howe gaan draai, sê Maree.

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.