Samesprekings het vandeesweek tussen Agri SA, Telkom en Open Serve, ’n diensverskaffer van Telkom, plaasgevind nadat boere in die Noord-, Oos- en Wes-Kaap se telefoonlyne die afgelope paar weke afgesny is.

Mnr. Henk van Wyk, voorsitter van Agri Noord-Kaap, sê sowat 70 boere van Garies se landlyne is aan die begin van die week afgesny sonder dat hulle enige kennisgewing ontvang het nie.

Dr. Requier Wait, hoof van ekonomie en handel by Agri SA, sê volgens Open Serve het ’n fout op die stelsel daartoe gelei dat dié landlyne afgesny is. Die fout is reggestel.

Van Wyk en mnr. Doug Stern, voorsitter van Agri Oos-Kaap, sê talle boere in hul provinsies, asook boere in die Wes-Kaap het al kennisgewings ontvang dat dié dienste opgeskort gaan word. Sommige boere in die Oos-Kaap se landlyne is ook al afgesny, maar nadat Agri Oos-Kaap die kwessie met Telkom en Agri SA bespreek het, is dit weer aangeskakel.

“Dit is ’n veiligheidsrisiko, veral met swak selfoonseine,” sê Stern. “Hoe moet jy kommunikeer tydens ’n krisis as jou diens sonder kennisgewing afgesny word of sonder dat ’n alternatief bestaan?”

Klagtes oor Telkom se kommunikasie

Die alternatiewe diens wat aan dié gebruikers gebied word, is toegang tot ’n lyn op ’n telefoon met ’n selfoonsimkaart teen dieselfde koste as die landlyn, mits die gebruikers ’n goeie MTN- of Telkom-selfoonsein het.

Boere by Murraysburg in die Wes-Kaap sê daar is aan hulle ’n klomp redes gegee oor hoekom die dienste opgeskort sou word, maar niks daarvan maak vir hulle sin nie. Mnr. Kotie van den Berg van die plaas Beeldhouersfontein sê die alternatiewe diens is nie vir alle boere werkbaar nie aangesien talle plase geen selfoonsein het nie. “Ek skat by Murraysburg het slegs die helfte van die plase ’n selfoonsein.”

Volgens Van den Berg is boere aan hul eie genade oorgelaat as hulle nie geld wil bestee op ’n satellietfoon of nie ’n sterk genoeg selfoonsein het nie. “Dit is asof Telkom sy skouers optrek en nie moeite wil doen om jou te help nie. Ons wil ons internet- en telefoonlyne op verskillende lyne hê sodat ons alternatiewe het as die een foutief is. Die infastruktuur wat ons tans vir internetdienste gebruik, is uiters kwesbaar vir weerlig en uiterse weersomstandighede.”

Van den Berg sê kommunikasie vanaf Telkom is swak. Klagtes word nie beantwoord nie. Party boere kry kennisgewings, terwyl ander geen kommunikasie ontvang nie.

Mnr. Cecil Uys van die plaas Nona Rosa naby Heidelberg in die Wes-Kaap sê in dele van dié gebied is lyne verlede jaar al opgerol, terwyl talle boere al maande wag op die satellietfone wat glo geïnstalleer sal word om die landlyne te vervang.

Wait sê Agri SA het aan Telkom en Open Serve gesê dat talle boere met ’n selfoonsein op plase sukkel en dat dié alternatief dus vir talle boere nie werkbaar is nie. Gesprekke met Telkom en Open Serve duur voort om oplossings te vind.

Wait versoek boere wat sulke kennisgewings of probleme ondervind, om dit by hul plaaslike boerevereniging aan te meld sodat dit na Agri SA verwys kan word. Intussen ondersoek Agri SA ook ander opsies vir boere.