Dit kom voor dat daar geen keer aan die wrede plaasaanvalle en -moorde is nie, nie eens in die inperkingstyd waar die hele wêreld pogings aanwend om die Covid-19-pandemie te beveg nie.

Volgens TLU SA was daar 20 aanvalle en geen moorde op die land se plase in Januarie vanjaar, 29 aanvalle en sewe moorde in Februarie, 22 aanvalle en sewe moorde in Maart, 10 aanvalle en een moord in April, en 17 aanvalle en vier moorde in Mei.

Mnr. Fanie du Toit, VF Plus-LP, het Ramaphosa in ’n parlementêre vraag gevra hoekom bykomende wetstoepassers nie ontplooi word nie om plaasaanvalle en -moorde te voorkom as die polisie sowat 300 000 mense in die inperkingstyd in hegtenis kon neem vir oortredings van die inperkingsregulasies en die polisie en die weermag ontplooi is om die regulasies af te dwing.

Ramaphosa het gesê die “ontplooiing van polisielede is gedoen volgens die misdaadbedreigingsanalise en die misdaadpatroonanalise. Die uitkoms van hierdie analise rig die ontplooiing van hulpbronne in reaksie op geïdentifiseerde misdaadbedreigings, ongeag die geografiese gebied.”

Hy het gesê dat die polisie en verskeie belanghebbendes in landelike veiligheid saamwerk rakende die toepassing van die landelike veiligheidstrategie. “Die regering is verbind tot ’n misdaadvoorkomingsbenadering wat ’n gelykmatige waarde heg aan die lewe en eiendom van alle Suid-Afrikaners. Hy sal voortgaan om wetstoepassers en ander hulpbronne te ontplooi waar dit nodig is.”

Debat

Die DA het reeds die speaker, me. Thandi Modise, versoek dat ’n debat van nasionale belang oor plaasmoorde en -aanvalle gehou moet word. Die party het teen druktyd nog gewag vir ’n antwoord van Modise.

Steyn sê dis nie asof die regering nie ingelig word oor die moorde nie. Toe mnr. Bheki Cele, minister van polisie, voorheen adjunkminister van landbou was, is in komiteevergaderings van die parlement gereeld daaroor gepraat.

Die DA het onlangs ’n plan bekend gestel oor stappe wat hy gaan doen om die regering te dwing om daadwerklik aandag te gee aan plaasmoorde in Suid-Afrika. Een daarvan is druk om hierdie misdade as haatmisdaad te verklaar. Dr. Ivan Meyer, die Wes-Kaapse minister van landbou, het reeds ’n plan bekend gestel om boere en werkers te beskerm.

Cyril se penarie

Dit wil voorkom asof Ramaphosa dit nie kan waag om te vra dat boere teen misdaad beskerm moet word nie, want dan sal hy ook moet vra dat boere se eiendom beskerm word en dit bots met grondonteiening sonder vergoeding, meen dr. Pieter Groenewald, leier van die VF Plus.

Hy sê die ongekende plaasaanvalle en -moorde op boere in Suid-Afrika die afgelope tyd vereis dat die president daarop moet reageer en dit ten sterkste veroordeel. Dit vereis ook dat die landbougemeenskap paraat en voorbereid moet wees om binne die wet vuur met vuur te beantwoord.

Die omvang en wreedheid van plaasmoorde en die stilswye van Ramaphosa, asook die gebrek van regeringsondersteuning wek die indruk dat die ANC se grondonteieningsprogram die president tot stilswye dwing.

Wanneer ’n president van ’n land ’n ophef maak van uitsonderlike voorvalle soos die dood van George Floyd in Amerika, maar oor uitsonderlike gruweldade soos plaasmoorde in sy eie land swyg, ontduik hy sy verantwoordelikheid teenoor die burgers van sy eie land.

Groenewald sê die VF Plus sal aanhou om politieke druk hieroor op die president en die regering te plaas. Ramaphosa het in Julie 2019 in die nasionale vergadering, toe hy repliek op die presidensie se begrotingsrede gelewer het, Groenewald geantwoord dat hy plaasmoorde veroordeel, dat hy dit nog altyd veroordeel het en dit altyd sal doen.

Vuurwapens

In die nasionale raad vir provinsies het parlementslede Cele aangevat oor sy uitsprake wat blyk ten gunste van wrede polisie-optrede is. Mnr. Christiaan Smit, DA-LP, wou ook weet hoeveel vuurwapens die polisie aangeteken het wat sedert 2000 tydens plaasaanvalle en -moorde gebruik is. Cele het vir 21 dae gevra om die inligting bymekaar te kry.

Cele se antwoord oor polisiewreedheid was dat hy dit nie ondersteun nie. Al wat hy sê, is dat die polisie volgens wet die reg het om dodelike geweld te gebruik om landsburgers en hulself te verdedig in situasies waar dit benodig word. Cele het gesê sedert die begin van die inperking is 49 sake van polisiewreedheid aangemeld.

Rakende plaasaanvalle het hy gesê dat die bekamping van moorde in enige sektor van die samelewing ’n voorkeursaak vir die polisie is en dat daar met boere saamgewerk word. Die bygewerkte landelike veiligheidsplan is verlede jaar in Limpopo bekend gestel. Inligting oor hoe doeltreffend die plan toegepas is, sal eers bekend gemaak word wanneer Cele ’n verslag oor die vordering daarvan kry, sê me. Lirandzu Themba, sy woordvoerder.

Cele het gesê mnr. Ronald Lamola, minister van justisie en korrektiewe dienste, moet toesien dat landsburgers wat tydens die inperking aangekeer is omdat hulle onwettig sigarette gekoop het, nie misdaadrekords kry nie.

Diegene wat egter betrokke was by die georganiseerde aankoop en verkoop van onwettige sigarette tydens die inperking sal vervolg word.