Mnr. Marthinus Stander, voorsitter van die Suid-Afrikaanse Pluimveevereniging (SAPV) se braaihoenderorganisasie, het dié beroep gedoen op ’n inligtingsdag by die Universiteit van die Vrystaat in Bloemfontein. Hy sê die bakterie wat listeriose veroorsaak, is alomteenwoordig.

Besmette spanspek in Australië het byvoorbeeld vandeesmaand teen druktyd reeds vier lewens geëis. Hoe gevaarlik so ’n besmetting is, hang egter af van die vlak van besmetting en die subtipes van die bakterie wat voorkom. Aanvaarbare vlakke van die siekteveroorsakende bakterie kan wel in ongekookte produkte voorkom.

“Kundiges sal moet besin oor duidelike maatstawwe rakende die onaanvaarbare vlakke in voedselprodukte, asook die beskikbaarstelling van finansiering vir personeel en toerusting.”

INVOER

Volgens Stander kan die gevolge van die listerioseramp, wat teen druktyd reeds 180 lewens geëis het, nog geruime tyd voortduur, grootliks te wyte aan die onkunde oor die siekte. Daar is vroeër berig listeriose kan tot breinvliesontsteking en bloedvergiftiging lei, wat albei dodelik kan wees.

“In die hoenderbedryf word vir dié siekte ingevolge ’n eie protokol en finansiering getoets.” Stander waarsku egter teen die storting van ingevoerde hoendersnitte wat nie aan dié streng gesondheidsvereistes onderworpe is nie.

‘Wetgewing oor verpakking en temperatuur kan misbruik word.’

“Die huidige wetgewing is ontoereikend om mense, veral diegene met ’n verswakte immuunstelsel, teen moontlike gevare te beskerm. Tussen die Departement van Landbou en die Departement van Gesondheid is daar ook te veel aspekte wat vaag is. Dit lei daartoe dat wetgewing oor verpakking en temperatuur misbruik kan word,” sê hy.

Ingevolge Suid-Afrikaanse wetgewing kan bevrore voedsel wat ná ontdooiing nie warmer as 8 °C geword het nie, weer gevries en verkoop word.

GESUKKEL

Mnr. Popo Maja, woordvoerder van die Departement van Gesondheid, het gesê die departement het gesukkel om inligting van private laboratoriums rakende die Listeria-bakterieë te kry, want die siekte was nie aanmeldbaar nie en laboratoriums kon ingevolge vertroulikheidsooreenkomste met produsente nie enige gevalle van listeriose in getoetste kos aan ’n derde party bekend maak nie.

Sedert die situasie vroeg in Januarie ná die talle sterftes krisisafmetings begin aanneem het en listeriose tot ’n aanmeldbare siekte verklaar is, is dit egter ’n strafregtelike oortreding om nié ’n geval van Listeria-besmetting by die Nasionale Instituut vir Oordraagbare Siektes aan te meld nie.

Alle private laboratoriums is nou verplig om dit te doen. Hy het benadruk dat slegs wanneer ’n uitbreking ’n sekere hoeveelheid mense raak, dit as aanmeldbaar verklaar kan word. Maja het gesê dit is belangrik dat verbruikers wat vleisprodukte gekoop het wat teruggeroep is, dit eerder na die winkels van oorsprong neem waar daar veilig daarvan ontslae geraak kan word pleks van om dit weg te gooi