Hy het tydens ’n terugvoersessie in Pretoria oor die vordering met die skep van só ’n agentskap gesê suksesvolle grondhervorming sal nie in Suid-Afrika moontlik wees sonder so ’n ontwikkelingagentskap nie. “Sonder dit sal ons oor 10 jaar nog hier sit en oor dieselfde kwessies redekawel. Suksesvolle hervorming hang af van só ’n vennootskap tussen die private en openbare sektore. Niemand kan dit op sy eie doen nie.

“Daar is duisende kommersiële boere wat ernstig is oor grondhervorming en wat nie kan wag om betrokke te raak nie. Hulle wag net dat iemand sê wat gedoen moet word. Hierdie ontwikkelingsagentskap is ’n droom wat bewaarheid word en wat die aangesig van Suid-Afrika kan verander.”

Serfontein het genoem dat die gedagte vir só ’n eenstopdiens op Landbouweekblad en Agri SA se grondberaad verlede jaar by Bela-Bela ontstaan het. “Ek het ná die Bela-Bela-grondberaad gesê dié dag sal eendag in die geskiedenis opgeteken staan as die belangrikste dag in landbou in Suid-Afrika.”

Chris Burgess, hoofredakteur van Landbouweekblad en organiseerder van die Bela-Bela-grondberaad, het gesê die idee was om Suid-Afrikaanse boere en die landbougemeenskap die geleentheid te bied om oor hul eie suksesverhale te praat. Daar was meer as 60 deelnemers met talle grootste transformasieprojekte wat nie eens ingesluit was nie.

“Dit was verstommend om te sien hoe die beraad mense se sieninge verander het. Bela-Bela het mense hoop gegee – nie net dat die grondkwessie opgelos kan word nie, maar dat die situasie tot almal se voordeel verbeter kan word. Dit het mense laat voel hulle hoort in die land, dit het selfvertroue teruggegee en mense laat besef wen-wen-oplossings is ’n werklikheid.”

Serfontein het gesê daar was wonderlike verhale van gesamentlike ondernemings tussen swart en wit boere, maar dit is ongelukkig nie genoeg nie. “Die landbou is gefragmenteerd en flenters. Daar is geen saambindende faktor nie en daarom is die landbou stukkend. Meer moet gedoen word.”

Oudminister Roelf Meyer se organisasie, In Transformation Initiative (ITA), is verantwoordelik daarvoor om die ontwikkelingsagentskap op die been te bring en verskeie belanghebbendes het die sluier gelig oor die vordering daarmee. Dit sal bekend staan as SAADA (SA Agricultural Development Agency) en is deel van die regering se openbare-private-groei-inisiatief (PPGI) waarby 19 sektore met 43 projekte betrek is en waarvoor plaaslike beleggers hulle tot R840 miljard verbind het.

Meyer het gesê die landbou is tweede op die lys van sektore, naas die motorvervaardigingsbedryf. Die stigting van die agentskap is die belangrikste projek vir die landbou. Hy kon nog nie sê wanneer die amptelike bekendstelling sal wees nie, maar hoop om teen einde September ver gevorder te wees. Daar moet nog met verskeie organisasies oorleg gepleeg word.

Oor die voorgestelde struktuur van die agentskap het mnr. Anton Bekker, prokureur, verduidelik dat die proses reeds begin het om ’n organisasie sonder winsoogmerk te skep wat as SAADA bekend sal staan. Dit sal die beherende struktuur wees met ander organisasies sonder winsoogmerk onder SAADA wat gerig sal wees op finansiering, beleggings en die doelwitte van die agentskap soos die aanskaf van landbougrond, opleiding en ondersteuning aan nuwe boere.

Mnr. Nico van Aardt, ’n kenner van ontwikkelingsfinansiering, het beklemtoon geld is nie die probleem nie. “Die grootste behoefte is eers om die nodige kapasiteit te bou. Dit kan net binne vennootskappe gebeur. Daarom moet die finansiering en kapasiteit in pas met mekaar gebring word.”

Die drie bronne van inkomste sluit in finansiering deur banke, waagkapitaal deur kommersiële boere wat betrokke wil raak ter wille van belastingvoordele en winste, en beleggers wat dit doen ter wille van transformasie en ontwikkeling.

Mnr. Pierre Venter, hoofbestuurder van menslike nedersettings by die bankvereniging van Suid-Afrika (Basa), het gesê sedert 2015 het die banke en die landbousakekamer Agbiz hulle al tot R10 miljard se leningsvermoë verbind. Basa wil net deel wees van die strukturering van die agentskap. ’n Raamwerk van beginsels moet geskep word en dit moet tot betekenisvolle grondhervorming lei.

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe. Volg ons op WhatsApp om daaglikse landbounuus op jou selfoon te ontvang.