Die agentskap, bekend as Agda (Agricuture Development Agency), het afgeskop met 36 stigterslede, maar tientalle individue en organisasies het hul name bygevoeg nadat die agentskap as deel van die driedaagse Africa Agri Tech-konferensie se program bekend gestel is.

Volgens Serfontein het die gedagte aan só ’n eenstopdiens in 2018 op Landbouweekblad en Agri SA se grondberaad by Bela-Bela ontstaan. “Ek het ná daardie beraad gesê dié dag sal eendag in die geskiedenis opgeteken staan as een van die belangrikste mylpale in die landbou in Suid-Afrika. Vandag is nog só ’n mylpaal.”

Oudminister Roelf Meyer se organisasie, In Transformation Initiative (ITA), het die leiding geneem om die agentskap op die been te bring. Dit is ’n ten volle private inisiatief, maar val binne die raamwerk van die regering se openbare-private-groei-inisiatief (PPGI) waarby 20 sektore betrek word met die oog op groei. Die landbou was een van die oorspronklike sektore wat in die PPGI geïdentifiseer is.

“Vir baie van ons is hierdie ’n droom wat waar geword het,” het Meyer gesê. “Ons is daar om opkomende jong boere te help en te ondersteun, nie net finansieel nie, maar ook om vaardighede oor te dra en hulle te help om suksesvolle kommersiële boere te word. Die agentskap is ook daar om praktiese antwoorde vir grondhervorming te vind.”

Meyer het gesê hoewel die gedagte aanvanklik was dat die agentskap ’n vennootskap tussen die staat en private sektor moes wees, is ná onderhandelinge op ’n lede-organisasie besluit wat privaat bedryf sal word, maar met die regering sal konsulteer soos en wanneer nodig.

Me. Thoko Didiza, minister van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkkeling, wat weens ander verpligtinge nie die bekendstelling kon bywoon nie, het in ’n video-boodskap die regering se steun aan die agentskap bevestig. Ook mnr. Rudi Dicks, hoof van die projekbestuursafdeling in die presidensie, het die versekering gegee dat Agda die volle steun van die president en die regering het.

Mnr. Kallie Schoeman van die Schoeman-boerdery het gesê daar is nou ’n stewige grondslag gelê, maar nou moet resultate daaruit voortvloei. Hy het na die mislukte Estina-melkplaas by Vrede verwys en gesê as die geld wat die staat daar bestee het, aan Graan SA vir ontwikkeling oorhandig is, sou hulle 3 000 boere op klein plase kon gevestig het.

Mnr. Malcolm Ferguson van die ITA wat ook by die reëlings betrokke is, het gesê daar sal in die volgende ses tot agt weke ’n werwingsveldtog wees om nog lede te werf en dan sal ’n direksie in Maart of April verkies word. Sodra die direksie verkies is, sal gidsprojekte geïdentifiseer word en dan hoop Agda om teen September ten volle in bedryf te wees.

Me. Leona Archary, ’n voormalige adjunk-direkteur-generaal by grondsake, is as waarnemende uitvoerende hoof van Agda aangestel.