Die agentskap is ’n organisasie wat, met die steun van die regering, ontwikkelende swart boere gaan help deur van bewese werkbare modelle gebruik te maak. Bykans R30 miljard vir meer as 30 ontwikkelingsprojekte is sedert die begin van die jaar bewillig.

Me. Leona Archary, tussentydse uitvoerende hoof, sê die raadslede wat die kommersiële landbousektor verteenwoordig, is die boere mnre. David Mthombeni, Nick Serfontein en Kallie Schoeman, me. Nono Sekhoto vir kleinskaalse boere, mnr. Jannie de Villiers van Graan SA vir kommoditeitsorganisasies en dr. John Purchase van Agbiz vir landboubesighede. ’n Voorsitter sal op die eerste raadsvergadering op 30 September verkies word.

Archary sê die klem sal veral wees om toegang tot bekostigbare finansiering te skep, die ontwikkeling van vaardighede en toegang tot markte. “Dit is nou die tyd vir sterk sosiale vennootskappe wat volhoubaarheid en groei kan verseker. Werkskepping en voedselsekerheid is van deurslaggewende belang om die ekonomie weer te herbou en ons glo Agda en sy vennote sal kan bydra tot die volhoubaarheid van die landbousektor.”

Sy het in ’n onderhoud by Nampo virtueel oor die agentskap gepraat wat sy ontstaan by Landbouweekblad se grondberaad in 2018 by Bela-Bela gehad het. Dit was ná ’n versoek van pres. Cyril Ramaphosa aan die private sektor om met planne te kom om werk te skep. Die agentskap word onder meer ondersteun deur boere op alle vlakke, kommoditeitsgroepe, finansiële instellings en handelsgroepe.

agdaraad
Werkspanlede wat bygedra het tot die ontwikkeling van die agentskap is van links agter mnre Jacobus du Toit, grondhervormingskenner, Malcolm Ferguson, oud-ambassadeur, dr. John Purchase, Agbiz, mnre. Nico van Aardt, kenner van ontwikkelingsfinansiering en Johan Bakker, regsadviseur. Voor van links is mnr. Roelf Meyer, oud-minister en spanleier, me. Gloria Serobe, sakevrou, mnr Pitso Sekhoto, boer en me Leona Archary, tussentydse uitvoerende hoof. Foto: Verskaf

Sy het gesê iets wat vir haar uitstaan, is almal se bereidwilligheid om saam te werk. “Daar is baie welwillendheid tussen die kommersiële boere en die ontwikkelende swart boere. Dit is nie altyd maklik nie en vertroue moet gebou word. Daarom moet ons seker maak dat ons werkbare modelle gebruik. Ons is besig om gidsprojekte te identifiseer waardeur ons kan wys wat vermag kan word.”

Die groot kommersiële boere skep vennootskappe met die kleiner boere en help hulle om doeltreffend te produseer, terwyl die finansiële instellings help met finansiering en die handelsgroepe markruimte skep binne die onderskeie bedrywe. “Daar is besluit om die regering nie by die agentskap te betrek nie. Die regering se rol is om na die beleidsomgewing om te sien. Hy kan wel geld vir projekte bydra, maar ons verwag nie dat die regering die agentskap moet finansier nie.”

Archary het gesê Covid-19 en die insinking in die ekonomie skep ’n risiko, maar daar is steeds goeie samewerking. Haar boodskap aan almal is om betrokke te raak. “Ek dink wat ons in twee jaar reggekry het, kon deur min ander soortgelyke inisiatiewe nagedoen word. Ons het reg oor die hele waardeketting gemobiliseer en as daar nog twyfelaars is, sal hulle binnekort kan sien wat ons met die gidsprojekte gaan regkry.

“Ons raadslede is almal ongelooflike individue wat ’n sterk agentskap met geloofwaardigheid en goeie bestuur sal skep.”