Só sê mnr. Marius Jonker, ondervoorsitter van die vereniging vir skuldinvorderingsagente (Adra). Regter Siraj Desai het onlangs nie net 15 loonbeslagleggingsbevele as onwettig en ongrondwetlik bevind nie, maar het ook beslis dat sekere dele van die Wet op Landdroshowe ongrondwetlik is.

Die regsfirma Flemix, een van die respondente in die saak, het in die hof aangevoer hy hanteer op enige gegewe tydstip sowat 150 000 aktiewe loonbeslagleggingsake. Desai het in sy uitspraak gesê hy moet aanvaar “as die individuele sake voor my almal onwettig verkry is en van nul en geen waarde is, is daar duisende, indien nie tienduisende, van daardie aktiewe loonbeslagleggingsbevele wat ook onwettig en ongeldig is. Ek kan nie met ’n skoon gewete daaroor stilbly nie.”

Mnr. Clark Gardner, uitvoerende bestuurder van die finansiële welstandsdiens Summit, sê slegs verkeerde jurisduksie maak bevele op die oomblik onwettig. “Ons wag nog vir bevestiging in die Grondwethof en die moontlike appèlproses oor die ander beslissings.”

Volgens me. Odette Geldenhuys, pro bono-prokureur by die regsfirma Webber Wentzel, wat namens die Regshulpkliniek opgetree het, is die aansoek reeds by die Grondwethof geliasseer. “Ons hoop die aansoek sal voor die einde van die jaar aangehoor word.”

Jonker sê verbruikers wat wil weet of ’n beslagleggingsbevel wat teen hul salaris toegestaan is ongeldig of onwettig is, moet die kredietgewer of die regspraktyk wat namens die kredietgewer optree, kontak. “Dis die maklikste en goedkoopste manier om uit te vind en ook die vinnigste manier om dit reg te stel.”

Die regsfirma Flemix en ander respondente, onder meer die mikrolener Bridge, beplan om terug te veg teen die onlangse Hooggeregshofuitspraak dat hulle sommige loonbeslagleggingsbevele onwettig en ongrondwetlik bekom het.