’n Groep plaaslike inwoners is glo verantwoordelik vir dié mynbedrywighede en het glo in ’n nabygeleë kampong, wat verlate was, ingetrek.

Dit is wat boere van die omgewing vermoed. Die groep mense wordvermoedelik ook verbind met ’n vlaag veediefstalle in die omgewing, het die boere aan Landbouweekblad  gesê. 

Mnr. Jan Boshoff, ’n finalis in vanjaar se Graanprodusent van die Jaar-kompetisie wat Graan SA aanbied, en ook ’n bekende Bonsmara-stoetboer, sê die mense woon op die perseel van die ou Brakfonteinmyn. Dit word deur die mynbougroep South32, ’n filiaal van die gediversifiseerde mynbougroep BHP Billiton, besit. ’n Titelakte wys dat die eiendom steeds deur BHP Billiton Energy Coal South Africa (Bpk.) besit word.

“Die kampong op die perseel is ook vir ’n tyd deur Delmas Colliers van South 32 gehuur en later laat staan. Dit is in hierdie gebou waar die misdadigers nou woon. Dit is waarskynlik dieselfde mense wat verantwoordelik is vir ’n vlaag veediefstalle in die omgewing,” het hy gesê.

Volgens Boshoff het boere in die verlede reeds velle, koppe en ander oorblyfsels van gesteelde vee by die kampong gekry, maar die plaaslike polisie kan glo niks aan die saak doen nie. “Die kampong lê tussen drieregsgebiede en die saak word tussen die verskillende polisiestasies aangestuur, met geen resultate nie.”

Hy het ook gesê die plaaslike polisie het tydens samesprekings met boere gesê daar word daagliks by ’n ventilasieskag onder die pad steenkool gemyn en dat dit die integriteit van die pad ondermyn. 

“Intussen ry die munisipaliteit daagliks twee tenkwaens met water oor ’n afstand van amper  70 km vir die mense op die belastingbetaler se koste aan, terwyl dit die grondeienaars (South 32) se verantwoordelikheid is,” het hy gesê.

Veediefstal ’n yslike probleem

Mnr. Jan van Heerden, ’n Beefmaster-stoetboer van die omgewing, sê hy het die afgelope twee jaar reeds 80 stoetdiere verloor.

“Die diefstalle kan regstreeks met die inwoners van die kampong verbind word. Ek het reeds met verskeie hooggeplaaste polisielededaaroor in verbinding getree, maar tot dusver het ons nog geen daadwerklike resultate gesien nie.”

Boshoff meen hy het net vanjaar reeds 20 topdiere ter waarde van R750 000 verloor, terwyl die bekende Beefmasterstoetery van Manjoh Ranch, wat deur die Da Costa-familie bedryf word, sowat 150 diere weens veediefstal verloor het.

“Dit kan nie so aangaan nie. Daar woon 200 tot 350 mense in die kampong en hulle het geen ander inkomste nie. Die munisipaliteit sal moet optree, anders gaan hier nog groot moeilikheid kom,” het Van Heerden gesê.

Die Victor Khanye-munisipaliteit was nie beskikbaar vir kommentaar nie, maar het wél ’n boodskap aan inwoners van die omgewing gestuur om motoriste te waarsku om die pad te vermy en gesê die Departement van Openbare Werke en die munisipaliteit se nooddiensspanne werk saam om die pad te herstel.