Luidens ’n berig op ABC News sê me. Gladys Bereijklian, premier van Nieu-Suid-Wallis, oorstromings kan die gebied later die week steeds raak.

Die oorstromings volg nadat groot dele van die staat in minder as ’n week twee derdes van hul jaarlikse reënval aangeteken het.

Volgens mnr. Scott Morrison, premier van Australië, kan die situasie rondom oorstromings maklik verander en is dit dus baie kompleks.

Me. Agata Imielska, weerkundige van die Australiese buro vir meteorologie, sê hoewel die reënwolke teen Woensdag begin opklaar het, bly die risiko vir oorstromings hoog oor dié deel van die land.

Mnr. Johan van den Berg, onafhanklike landbouweerkundige, sê van 20 tot 23 Maart het gedeeltes van Nieu-Suid-Wallis 300 mm of meer gemeet, en voorspellings dui aan dat nog sowat 200 mm kan voorkom. “Die oorstromings is die ergste in die afgelope ten minste 60 jaar en word veroorsaak deur ’n baie sterk laagdrukstelsel wat staties oor die gebied geleë is.”

Van den Berg sê hierdie uitermatige weerstelsels kan grotendeels toegeskryf word aan die La Niña-verskynsel, hoewel dit reeds heelwat verswak het.

Verband tussen SA en Australië?

Daar is ’n sterk verband tussen die klimaatsgebeure in veral Queensland en Nieu-Suid-Wallis teen die ooskus van Australië en reënval in die suidelike dele van Afrika, omdat hulle op dieselfde breedtegraad lê.

Van den Berg sê ’n ontleding van vorige sterk La Niña-stelsels dui aan dat oorstromings tot so laat as Mei in Suid-Afrika voorgekom het, met die omgewing van Durban wat op 5 Mei 1988 van 200 mm tot 300 mm gekry het. Op 4 Mei 1976 het oorstromings langs die Krokodilrivier onderkant die Hartebeesportdam voorgekom. “Dit is interessant dat oorstromings tot so ver as Kaapstad voorgekom het toe meer as 100 mm op 8 Mei 1975 in Nuweland aangeteken is. In 1974 is sowat 150 mm op 12 Junie in Kaapstad gemeet.”

Volgens Van den Berg dui korttermynvoorspellings nie enige gevaar aan nie, maar met die baie wisselvallige weerstelsels kan oorstromings of baie swaar neerslae oor kleiner gebiede baie vinnig ontwikkel en dus kan oorstromings nie uitgesluit word nie.

Hoe lyk dinge die volgende twee weke?

Van den Berg sê dis belangrik om met korttermynvoorspellings gedurende die herfs kennis te neem dat toestande baie vinnig kan verander. Die groot oorsaak is dat dit in die oorgangstydperk is vanaf somer na winter, tesame met die onderliggende effek van die La Niña-stelsel. Die uitwerking van koue fronte, tropiese vog en siklonale aktiwiteit in die Indiese Oseaan maak dat veranderings baie vinnig kan plaasvind.

Tropiese vog sal tot die naweek suid en suidoos oor Namibië en Botswana beweeg, en reën word tot Donderdag oor dele van die Noord-Kaap verwag. Die neerslae kan oor die naweek na die res van die land versprei. Van 5 mm tot 40 mm is moontlik oor bykans die hele land, met die uitsondering van die Wes-Kaap en aangrensende dele van die Noord- en Oos-Kaap.

’n Swak koue front wat van Vrydag af oor die Wes-Kaap inbeweeg, kan ligte neerslae na dele van dié provinsie bring, wat kan uitbrei teen die suid- en ooskus oor die naweek. Die stelsel kan minimum temperature oor die sentrale tot suidelike binneland laat daal tot onder 10 °C en ligte ryp kan in laaggeleë dele voorkom.

Van 29 Maart tot 7 April word min tot geen reën oor die land verwag.

Tropiese vog sal egter weer van 7 April af oor Namibië begin afbeweeg en reën bring vir bykans die hele land. “Die kans lyk ook baie goed vir ten minste 20 mm oor die baie droë dele van die Noord-Kaap soos Williston, Van Wyksvlei en Sutherland, asook in die Oos-Kaap oor dele soos Somerset-Oos en Jansenville,” sê Van den Berg.

Wat reën oor die Wes-Kaap betref, kan die eerste winterreën teen einde April begin voorkom.