Die nasionale Dierebeskermingsvereniging (DBV) het Dinsdag ’n tydelike interdik in die hooggeregshof in Makhanda bekom teen die verskeping van die skape. Die interdik is geldig tot 16 Julie, wanneer die DBV ’n dringende aansoek sal bring om die verskeping van lewende hawe permanent stop te sit.

“Dit het daartoe gelei dat die transaksies van boere wat in die volgende week skape sou verkoop het, deur die mat geval het. Ons verwag ’n daling in die vraag na skape en ’n gevolglike daling in pryse,” sê Agri Oos-Kaap luidens ’n verklaring.

Al Mawashi het beoog om ’n verdere 240 000 skape voor die einde van die jaar te verskeep.

Mnr. Doug Stern, voorsitter van Agri Oos-Kaap, sê dat die vleismark in die Oos-Kaap begin stabiliseer het sedert die uitvoer van skape na die Midde-Ooste in 2019 begin het.

“Die pryse was nie uitspattig nie, maar met die droogte wat in 2019 ’n historiese hoogtepunt bereik het en wol- en bokhaarpryse wat die afgelope maande gedaal het, het dit pryssekerheid gebring vir boere wat steeds hul vee kon verkoop.”

Volgens Agri Oos-Kaap is die hoofrede vir die teenstand teen die uitvoer van lewende diere kommer oor die welstand van diere. “Ons bly verbind tot die welstand van die diere.”

Toesig

Volgens die organisasie se verklaring het hy verlede week met Al Mawashi se direkteure Koeweit vergader waar besluit is dat die Nasionale Wolkwekersvereniging (NWKV) saam met die Rooivleisprodusente-organisasie (RPO) ’n span sou saamstel om die laaiproses tussen die voerkrale en die skip te monitor.

Die span sou deur mnre. Peter Cloete, ondervoorsitter van Agri Oos-Kaap, en Eben du Plessis, hoof van kommunikasie by Agri Oos-Kaap, gelei word. Die NWKV en die RPO sou hul eie verteenwoordigers benoem het.

Agri Oos-Kaap het sy misnoeë uitgespreek oor die betrokkenheid van die Rooivleisbedryfsforum (RVBF) by die aansoek om die interdik sonder dat vooraf met Agri Oos-Kaap gekonsulteer is, hoewel Agri Oos-Kaap “van die begin af betrokke was by die proses”.

Die RVBF was net betrokke by die dringende aansoek om die huidige uitvoer te stuit, en ondersteun nie die volle verbod op uitvoer nie. Agri Oos-Kaap reël tans ’n vergadering tussen die RVBF en Agri SA.

Volgens Agri Oos-Kaap het dié stap gelei tot opstand van agente en boere teen die Oos-Kaapse RPO weens die betrokkenheid van die nasionale RPO by die besluite van die RVBF.

Volgens Stern moet daar in die toekoms vanuit ’n landbou-oogpunt samehorigheid wees en is dit nodig dat al die betrokke belanghebbendes tevrede moet wees met die kodes van beste praktyke wat opgestel moet word vir die verskeping van lewende diere uit Suid-Afrika.