Die meeste van hulle is dit egter eens dat die droogte nog nie gebreek is nie. Goeie opvolgreën is nodig vir veldherstel.

In sommige dele van die provinsie het die droogte voor die koms van die goeie reën al vier tot vyf jaar gewoed en was veevermindering aan die orde van die dag. Bale voer (waarvan die meeste geskenk) is aangery om kernkuddes aan die lewe te help hou.

In die distrik Steytlerville is die droogte-littekens orals te sien – op die veld, die uitgeteerde vee en boere se gesigte. Boere het egter breed geglimlag nadat goeie reën vroeg in Februarie begin uitsak het.

Op die plaas Rietfontein het mnr. Heinie Dorfling 46 mm oor die naweek gemeet. “Al ons damme is vol.” Saam met Saterdag se reën het daar egter ook hael so groot soos golfballe geval. Groot skade is aan die huis en buitegeboue aangerig. Sowat 50 ruite is stukkend geslaan. Geute en dakke sal ook vervang moet word.

Vloedwater het draadheinings beskadig en pype weggespoel, maar ook ’n groot gronddam op die buurplaas, wat jare lank leeg was, binne ses uur gevul.

Sowat ’n week ná die eerste reën het Dorfling nog 25 mm reën gemeet. Hy sê dat nog opvolgreën nodig is vir die veld en omgewing om te herstel. “Die hael het die veld ook hard geslaan, die plante het seergekry. Dit gaan lank duur om te herstel, indien ooit.”

In die distrik Uitenhage het daar in die afgelope twee weke tot 60 mm in sekere dele geval, terwyl ander dele ongeveer 20 mm gekry het. “Ek meen gemiddeld sowat 30 mm het oor die grootste deel van die distrik uitgesak,” sê mnr. Fransie Fourie, voorsitter van die distrikslandbou-unie Uitenhage, wat ook gebiede soos Jansenville, Cockscomb en Glenconnor insluit.

Volgens Fourie het die damvlakke egter nie noemenswaardig verbeter nie. Goeie en gereelde opvolgreën is nodig.

“Die veld het seergekry as gevolg van die afgelope drie jaar se ondergemiddelde reënval, minder as 50% van die normale. Ek meen ons het twee goeie reënseisoene nodig om die veld in ’n mate te laat herstel en ons ondergrondse waterbronne weer te normaliseer.”

Reënseisoene

Reën het ook in die distrik Queenstown verligting gebring, hoewel damme nog leeg is. “Ons trek by 100 mm vanaf die eerste reën,” sê me. Kate Webster, boervrou van die plaas Rookwood.

“As ’n mens na die reënseisoene hier by ons kyk, is die neiging tans dat ons bitter min reën in die lente en vroegsomer kry. Dit val eers in die tweede helfte van die somer. Die groeiseisoen – veral op die hooggeleë dele – is dan baie korter. Hierdie patroon loop al langer as drie jaar.” Volgens mnr. Gideon Greyvenstein, voorsitter van die distrikslandbou-unie Barkly-Oos, is van 100 mm tot 200 mm die afgelope twee weke in dié omgewing gemeet.

“Damme begin water kry en die spruite begin loop. Die grond is egter nog baie dors, en die water sak weg. Dis nou die vierde jaar dat die reënval in die gebied ver onder die gemiddelde is. Boere het al baie vee verminder, groot skuld is aangegaan om vee ekstra lek te voer en nuwe boorgate is geboor,” sê Greyvenstein.

Op die plaas Manley Flats naby Grahamstad het daar die afgelope paar weke slegs ’n paar los buie uitgesak, sê me. Leonie Yendall, ’n boer op die plaas. “Ons laaste reën – sowat 6 mm – was verlede Maandag tydens ’n storm, maar sover het ons nog geen afloop gehad nie. Ons damme is feitlik almal leeg en die groot fontein op die plaas het heeltemal opgedroog,” aldus Yendall. “Ons gras is groen, maar baie kort. Ons voer feitlik nog al ons beeste. Die droogte hier rond is nog nie glad nie gebreek nie. Op die dae met hoë temperature brand die grassies gou dood.”

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.